Thursday, March 12, 2009

STILTE IS GOED VIR JOU

Ken jy die groot stilte van die anderkant af as jy met God praat en soms niks terughoor nie? Wel..., stilte is soms presies die regte antwoord!
Die woestyn is dikwels beter as die bergtoppe. Hoekom..? Wel, in die woestyn leer ons om afhanklik van God te wees. Daar leer jy om vas te byt en deur te druk. Daar leer jy God se teenwoordigheid ken en kan jy Sy stem oor, want daar is niks anders wat harder as God praat nie! In die woestyn is dit net jy en God...., Sy stem teen jou oor.
Stilte is nie ‘n “nee” van God se kant af nie. Stilte is wagtyd....., rustyd....! Stilte is nie regtig stilte as dit nie die Here se soort stilte is nie.
By God is stilte juis ‘n tyd van leer, soek, nadink en nuwe insigte. In sulke tye doen jy wat Psalm 30 sê – dan wag jy op die Here.
Wag in die Here se voorhowe is nie om op “goed” te wag nie. Gebed gaan nie regtig oor versoeke, vrae en antwoorde nie, maar oor GOD. Gebed is om net by Hom te wees. Dis om in ‘n verhouding met Hom te staan in Jesus se Naam. Dis om God se lof te besing, al wil letterlik alles in jou uitroep dat daar geen rede vir lof is nie. Gebed is om die Here groot te maak. Gebed is om Sy skoonheid te beleef en daaroor bly te wees. Gebed is om met aktiewe uitsien op God te wag om Sy beloftes ‘n werklikheid in jou lewe te maak. Om te erken God werk in ‘n ander tydsone en om te wag dat my tydsone en God s’n mekaar ontmoed.
Gebedstilte sê nie God is weg of besig met belangriker dinge nie. Hy is naby.
Wag op die Here!
Wag totdat jy Hom in die stilte hoor.
Nee , wag totdat jy God se soort stilte hoor.

Met dank en erkenning aan: Dawie van Schoor

6 comments:

Anonymous said...

Baie dankie vie hierdie week se inskrywings. My siel het dit so nodig gehad. Vat seker baie van jou tyd om so n indiepte blog in stand te hou, bid vir jou!

Oom Petrus said...

Hallo Anoniem,
Baie dankie vir jou inloer hier, ek waardeer dit.
Dit is kommentaar soos hierdie wat dit alles die moeite werd maak.
Baie sterkte vir jou.

Anonymous said...

Ek wil ook net dankie kom se vir hierdie week se inskrywings. Ek het dinsdag gehoor ek is een van ses wat die einde van die maan moet klaarmaak hier. Ek het twee kinders om voor te sorg.
Ina powerville

Anonymous said...

Sjoe, dankie vir hierdie stuk. Ek het beslis nodig gehad om hier te kom inloer en dit raak te lees.

Oom Petrus said...

Hallo Ina,
Dankie vir jou besoekie.Ai, ek is so jammer om te hoor dat die ongeluk van personeel vermindering jou getref het.Al wat ek kan se is dat jy moet aan die Here vashou in hierdie moeilike tyd en net absoluut al jou vertroue op Hom plaas. Ek glo dat hy vir jou die regte werk oor jou pad sal stuur.
Sterkte en ek glo daar is baie wat vir jou sal bid.

Oom Petrus said...

Hallo Kokkewiet,
Dankie vir jou inloer. Ek waardeer dit