Thursday, February 12, 2009

BLYMOEDIGHEID EN VRIENDELIKHEID

Kyk so ‘n slaggie om jou, na die mense met wie jy elke dag saam werk, of saamry. Almal het so ‘n bedrukte uitdrukking op hulle gesigte. Kyk maar na die mense by wie jy in die straat verby stap of na die motor langs jou terwyl jy in druk verkeer ry..! Niemand is meer vriendelik nie, dit lyk of die wêreld op almal se skouers rus. Wat ‘n tragedie dat dit so moet wees. Probeer net iemand in die straat groet en hy kyk jou aan asof die kat jou ingedra het.
Ek kom oorspronklik vanaf ‘n klein platelandse dorpie af, daar het almal vir almal geken en het mekaar gegroet. As jy loop, het die person wat met sy motor van voor af kom, jou gegroet en jy het hom gegroet want julle het mekaar geken. Die ou met sy motor wat van agter af gekom het, het by jou gestop en gevra of jy ‘n saamry geleentheid wil hê. Vandag is die kanse goed dat jy doodgery kan word as jy iewers heen loop, en niemand gaan by jou stop om jou op te laai nie.
Nou wat het van daardie menselewendheid en blymoedigheid geword? Het die druk waaronder elkeen lewe dit by die venster laat uitwaai, of het mense maar net verander..? Is dit ten goede of ten slegte..? Dit is so, in hierdie tyd kan jy nie maklik by iemand stop om hom ‘n saamry geleentheid te gee nie, dit is te gevaarlik...!
Maar wat van groet en vriendelik wees..? Nee ons is mos almal besig met ons eie gedagtes, ons sien nie eers die person wat by ons verbyloop raak nie, ons oë staan stokstyf in ons koppe en ons hardloop dat dit bars om net by die plek te kom waar ons wil wees. Verbeel ek my of het mense se loopspoed in die laaste klompie jare ongelooflik toegeneem....?...of is almal deesdae besig om fiks te word, die dat hulle so vinnig loop...!
Ek het gedink dat rekenaars daar is om ons werk makliker en vinniger af te handel, maar het ons nou regtig meer tyd as voor die rekenaar era..? Nee, dit wil tog nie so voorkom nie, alhoewel die werk miskien vinniger afgehandel word, word daar nou soveel meer werk op die werknemers afgelaai. Dink net hoe sou dit gegaan het as ons nog alles met die ou handstelsels moes byhou en uit die kop moes optel. Mens kan nie glo dat persoonlike rekenaars wat vandag omtrent op elkeen se tafel staan en in elkeen se huis is, dertig jaar gelede nog nie daar was nie.
So, die enigste gevoltrekking waartoe ek kon kom is dat ons onvriendelike houding van die modern eeu te wyte is aan rekenaars. Ons het geleer om vir ure na ‘n vierkantige skermpie voor ons te staar en ons werk daarop te doen, dat ons nie eers agterkom daar is mense rondom ons nie. Miskien het hierdie ding al ‘n paar jaar vroeër begin...! Televisie het ‘n decade of wat voor rekenaars hier by ons opgedaag. Sedert daardie eenoog monster in ons sitkamers kom plaas neem het, het ons mos verleer om te gesels. Ons Afrikaners se gasvryheid het verdwyn, want almal staar net na die skerm om te sien wat nou weer in een of ander sepie gaan gebeur......! Dit is dalk van al die gestaar en gesiguitdrukkings wat saamspeel terwyl die storie aan die gang is dat ons soveel plooie kry. Dan maak die plooikenners weer een of ander roompie wat die plooie moet laat verdwyn. Dit blyk ‘n goeie manier te wees om die ekonomie van die land en die wêreld aan die gang te hou.
Skuus ek het nou heeltemal afgedwaal.
Kom ons kom terug by die plek waar ons weer vriendelik is en met blydskap deur die lewe gaan. Ons moet nie toelaat dat die sorge van die lewe ons van ons blydskap beroof nie. Gal 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid,………….
Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.Die Here is naby Fil 4:5
Spr 22:9… wie vriendelik is, hy word geseën………………..

No comments: