Saturday, February 7, 2009

GENADE BROOD VIR DIE NUWE JAAR

Ek plaas hierdie met toestemming.
Hierdie gedeelte was as volg onderteken
HJ Conje
DIVINE LIFE MINISTRIES
Posbus 7 Noenieput,8831
(Landlyn 084 551 1000)
Toe ek vra waar Noenieput is moes ek hoor ongeveer 120km Noordwes van Upington teen die Namibia grens. Hulle doen voltyds sendingwerk aldaar.

Die statige gedreun van die "Genadewa" (my ou voertuig) met sy kosbare vrag vol bevrore groente, pasteie, broodmeel en 'n verskeidenheid blikkieskos, bereik hulle ore lank voordat hulle ons kon sien. Dit is darem nou ook nie die eerstekeer dat die Genadewa hierdie tweespoorpaadjie geloop het nie.
Vriendelik-glimlaggend stap hy nader en steek by voorbaat hand uit.
"Mirrag Paaster," lag hy oopmond met die groetslag, "myse hartstenk is nog vol want ekke het hom juis vanoggend loop volmaak met 'n stukkie se gelees daar by Oompie Dawid se geskrifte"(Psalms van Dawid) Met die kom sy vroutjie kop-onderstebo nadergeloop met hul jongste sty toegedraai in 'n verslete bruinwit kombersie.

Haar moederhart wil ons stoele toe nooi, maar haar oë steek halstarrig vas by die oorlooppotte agterop die Genadewa. So staan ons vas by die Genadewa met ons arms wat oor die traliewerk van die bak hang.
Martelend ignoreer ek die woordelose vrae in beide se oë en vra opgewek uit na die welstand van Pa-goed en Ma-goed. Dan breek die nuuskierigheidsdamwal in hom en soos 'n stroomversnelling kook dit uit sy hart "En hierdie kossigheid Paaster, waar kom hierdie oorvloedigheid dan nou so skielik vandaan?"
Eerbiedig vertel ek hom van Vader seGewershart en hoe kosbare warm-hart-oop-hand-voorwêreld-mensegoed ruimskoots Jesus se voorsienigheid help uitdra.
Dan raak dit stil om die Genadewa. Standbeeldstil,Goddelikstil. So staan hy daar met sy ligbruin arms stewig om die kartondoos vol kruideniersware gevou.
Vergete is die realiteit van 'n leë kosbak wat ook juis hoeka die middelpunt van hulle agtermiddaggepraat was.
Woordelose minute spoed soos sekondes verby en steed staar hulle na dit wat so onwaarskynlik lyk. "Ai Paaster," snik hy lateraan uit,"myse maagtenk gaan mos nou ook petrol kry, nes my hartstenk vanoggend."
Dan vervlou die laatmiddag sonnetjie sommer skielik en sy laaste strale veg verbete om sigbaar te bly, Ek en my mooiste mooi vroulief wil vorentoe, maar ons staning saam met hulle langs die Genadewa is nodig, nes sagte reënwater in die woestyn.
Skielik oorval die donker nag ons en ek staar die sterbelaaide hemelstraat op. 'n Hemelruim verhelder nes 'n kersboom se liggies, met elke ster wat getuig van Sy genadebrood vol hoop en verwagting vir 'n nuwe dag, 'n nuwe jaar en 'n nuwe lewe. Onverdiende genadebrood vir jou en my, styf verpak en toegedraai in Sy laaste "Dit is volbring"
Mag hierdie jaar wat kom, vir jou 'n genadejaar vol oorvloed wees. Mag jy, terwyl Sy genademantel styf om jou gedraai is, met jou Genadewa loop stilstaan ander, en soos Habakuk "JESUS" uitjubel, al het jou vyeboom 'n droë jaar beleef.

1 comment:

mariki said...

Oom Petrus, nes die Paaster se vrou, is hierdie die mooiste mooi boodskap. Dankie, dankie.