Friday, February 6, 2009

VERSOENING

Net kort voordat die Here my siel gered het, dit was hier in Oktober 1979, het ek ‘n uitval gehad met ‘n familielid omtrent ‘n besigheidstransaksie. Die familielid was heelwat ouer as ek, en wat ek die dag vir hom gesê het was sekerlik nie mooi nie. Maar op daardie oomblik het ek gevoel hy wil op my koste kapitaliseer tot sy eie persoonlik voordeel.
Die geveg het oor die telefoon plaasgevind en nie eers van aangesig tot aangesig nie en toe was ons natuurlik kwaad vir mekaar. As ons mekaar in die straat raakloop het hy neus in die lug daardie kan toe gekyk en ek weer neus in die lug hierdie kant toe gekyk.

Nadat die Here my siel uit genade gered het, het hierdie onmin tussen ons twee my begin pla. Dit was sekerlik die Heilige Gees wat hierdie gedagtes in my kom wakkermaak het..!

Die dag wanneer jy jou in so ‘n situasie bevind, dan weet die siele vyand hoe om jou te treiter. Jy as mens weet dat jy hierdie saak moet regmaak, die Heilige Gees por jou aan dat jy moet uitreik en regmaak. Dan sit die vyand in die hoek en treiter jou met gedagtes soos- …. hy het ook mos aandeel in hierdie onmin, hoekom moet die eerste stap nou juis van my af kom,…..hy sal my nie wil sien as ek hom gaan opsoek nie,……hy gaan my wegjaag as ek probeer,….wat gaan ek vir hom sê,….hoe moet ek hom benader,…..moet ek hom weer konfronteer,……moet ek om verskoning vra,…..
Ag, daar gaan baie gedagtes en gevoelens deur jou as jy op die vooraand van so ‘n saak is, jy twyfel selfs of jy die regte ding wil doen. Moet ek dit nie maar liewer los en net aangaan met my lewe nie? Die aandrang van die Heilige Gees word egter al sterker en sterker en jy weet later jy mag dit nie langer uitstel nie.

Toe een aand lees ek daardie gedeelte in Matt 5:23 – 25 As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, (24)laat jou gawe daar voor die altar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe(25) wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy nog saam met hom op die pad is……
Nadat ek dit gelees het, het ek geweet dat speeltyd is verby en dat ek dadelik die saak moet regmaak.

Ek is seker ‘n lafaard, maar ek het steeds nie kans gesien vir ‘n persoonlike ontmoeting nie. Ek het toe gaan sit en ‘n brief skryf waarin ek om verskoning gevra het, aan hom verduidelik het dat ek my saak met die Here uitgemaak het en dat Hy my tot stilstand gebring het met die gedeelte wat ek gelees het. Ek het gevoel as hy nou die brief weggooi of stukkend skeur, ek het my kant gebring.

‘n Paar dae later het ek ‘n telefoon oproep van hom ontvang. Ons het ‘n redelike lang gesprek gevoer en hy het my verskoning aanvaar. Hy het van sy kant af ook om verskoning gevra en so het ons die onaangenaamheid uit die weg geruim. Dit was nie lank daarna nie toe het hy ook sy saak met die Here uitgemaak en tot sy dood het ons goeie vriende gebly.

So maklik kon ek nou nog met selfverwyt geloop het as ek nie na die stem van die Heilige Gees geluister het en die saak uitgestryk het nie. Miskien het hierdie episode ook 'n bydrae gemaak dat hy met die Vader reggemaak het

Dit lyk altyd moeiliker as wat dit op die ou einde regtig is. Die Here help jou as jy dit ernstig met hom bedoel.

As daar iets tussen jou en jou naaste is, steek jou trots in jou sak en maak dit reg, jy sal nie spyt wees nie.

3 comments:

Nimsi se Blog said...

Ai Oom Petrus, bid vir my oor hierdie ding asseblief; jy ken die geskiedenis. Leer ek weer vandag n les;EK MOET VROEGMORE HIER LEES EN NIE WAG VIR LATER NIE!
Lekker naweek vir julle
Ons verlang!
Nimsi

mariki said...

So 'n oorwinning in die Here is LEKKER om van te hoor! En wat 'n vrede en vreugde kry die ou wat oorwin as geskenk.

Oom Petrus said...

Hallo Nimsi
Ek bid vir jou. Aanhouer wen. Houvas aan die Here, want ons moet ons uitstrek na dit wat voor is.


Hallo Mariki,
Dit het bloedsweet gekos en ja dit is lekker om binne Vader se wil te bly.
Julle moet almal 'n lekker naweek hê