Wednesday, February 18, 2009

KRUISPAD

Ons dien die Here en dit is lekker, ons dien Hom nie omdat ons iets van Hom verwag nie, maar omdat ons wil.
As jy rondom jou kyk en jy sien hoe roekeloos mense lewe, maar jy sien ook raak dat hierdie roekelose mense klaarblyklik beter lewe as jy, wat die Here dien. Hulle besighede floreer, dit lyk asof hulle baie meer geld as jy verdien, dit wil voorkom asof dit met hulle net goed gaan.

Dit is dan wanneer jy kan begin wonder of dit nie beter is om soos hulle te lewe nie, kyk dit gaan dan so goed met hulle….! Spr. 16:25 Daar is ‘n weg wat vir ‘n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.
Wanneer jy by so ‘n kruispad in jou lewe kom, moet jy die kat eers goed uit die boom kyk. Moenie hals-oor-kop jou in ‘n ding begewe en so jou pand verloor nie.

Moenie! Moenie dit eers ‘n gedagte gee nie. Lewe jou lewe as ‘n kind van die Vader, dien hom met alles wat in jou is. Al lyk dit vir jou of dit met die ander beter gaan, dit gaan nie, want hulle is besig om te midde van hulle voorspoed oor die afgrond te stort.
Die dag toe jy jou hart vir die Here gegee het, het Hy jou uit die modder uit opgetel en jou voet op die Rots Jesus Christus geplaas. Bewandel daardie pad, dit is die regte pad..!
Onthou wat Jesus gesê het “Ek is die weg en die waarheid en die lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.

Ons tyd op die aarde is eintlik maar bitter kort gemeet teen die ewigheid. Laat ons maar nou bietjie swaar kry, nie alles kry wat ons oë sien nie. Aan die voleinding van tyd sal ons daardie goue straat van die nuwe Jerusalem bewandel, ons sal nie meer siek wees of pyn en ongemak hê nie.
Ons is aan Jesus toevertrou en ek is seker dat Hy die mag het om wat aan Hom toevertrou is te bewaar tot daardie dag. Moet net nie uit Sy bewarende hand klim en op jou eie gaan nie, dan is jy verlore….!

1 comment:

mariki said...

Dankie hiervoor, OomP.