Wednesday, February 25, 2009

Groete en Vrede!

Met die aanstap na Jan en Katie se blyplek, besef ek weereens dat die Agter-Kalahari God se speelplek moet wees. Hier is tog so baie wat jou aan Sy Gewershart herinner. As dit nie die warm sonsoene op jou vel is wat jou Sy tasbare liefde laat voel nie, dan vou die koelkoue suidewind Sy genadejas styf om jou vas. Kyk jy so teen sonop of sonsak nuuskierig rond, verdrink jou oë maklik in die heuninglug wat breed oor die vêrste sien lê.



Katie se skril gelag ruk my dring diep in my binneste in en ruk my terug tot die werklikheid van menswees. Dan onthou ek Katie haar rondgestrompel soveel kere op die winkel se stoep wanneer haar soetwyn geskree dwars oor Noenieput waai. Met my binneste oog sien ek weer haar weer soos ‘n slap riet wiegend teen die krag van die swaartekrag veg. Omdraai wil ek graag want ek het tog nie lus vir Katie se wynwysheid nie. “Gaan gee jouself” hoor ek Hom saggies sê, “dis al wat Katie wil hê.”



Hard klop ek aan die gekraakte houtdeur en met ‘n geforseerde glimlag maak Katie die deur oop. Silwerskoon met haar reguit stokkies hare agteroor gekam, staan sy daar en nooi ons met dooierige oë binne. Sy stap voor ons uit en lei ons na die lendelam kombuis tafeltjie en sy geel wankelrige stoele. Versigtig word die stoele uitgetrek versigtig neem ons sitplek in.



Kort na die groet en die verneem van welstand raak dit grafstil om die tafel. “Gaan gee jouself, jou hart, jou tyd, jou ore” hoor ek Hom weer sê, “dis al wat Katie wil hê.” Eers verstaan ek nie, want ek is dan gestuur om Jesus te verkondig, te preek en te vertel en nou moet ek stil. En so begin Katie vertel van haar verlede, haar gesukkel, haar vreugde. Sy vertel van dit wat haar hart soos ‘n springbok laat pronk en onophoudelik stroom haar verhaal na buite. Dan staan haar praat stil by haar hoop om Hom te dien en die seer wat ander met hul vlymskerp veroordelende tonge bring. ‘n Paar ure later groet ons by hul gekraakte deur terwyl Katie skamerig die oorvloei van lewe uit haar natblink oë vee.



Drie dae later so teen sonsak se tyd, stap ek en die Mooiste Mooi hand aan hand buite rond en steeds draal die oorstaan by Jan en Katie in ons binneste binne rond. Ver in die vêrte van ‘n laatmiddag Agter-Kalahari sonsak bederf Vader ons met nog ‘n lewende wolk skildery. En êrens tussen die oopmond staan en kyk na die werklikheid van Vader se Gewershand, kom kry ‘n verstaan lêplek in my hart soos ‘n broeis hoenderhen.



Gee jouself en dit wat jy is aan Hom wat Skepper van Hemelgoed en Stofaarde is en die tweede wat hier neffens aan staan, is dat ons jy jouself moet gee aan elkeen wat jou liefde broodnodig het.



Eers dan loop jou bêreplekke oor ,



Eers dan reën dit oorvloed op jou lewensland,



Eers dan belê jy die ewigheid in ander se harte.





Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou …………………………….



Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE





HJ & Dalene

DIVINE LIFE SENDING.

(Landlyn 054-551 1000)

3 comments:

Anonymous said...

More Oom dis weer die powerville meisies. Oom sal nou nie vir my glo nie maar my baas vra nou al elke oggend wat skryf oom... Ons werk van maandag af net 3 dae n week want besigheid is bietjie stil ek dink hy is bekommerd dis hoekom hy wil weet wat skryf oom. Miskien kan oom bietjie eendag skryf oor wat my oupa altyd vir ons gese het dat God nie n spaarwiel is niue.
Groete van hier

Nimsi se Blog said...

Hello oom Petrus,
Pragtige inskrywing hierdie... maar nie altyd so maklik om jouself te gee aan ander wat jou liefde broodnodig het nie.
Hoop dit gaan goed daar by julle.
Nimsi

Oom Petrus said...

Hallo Meisies van Powerville,Jammer om te hoor van die net 3dar per week werk. Hoop dit word gou weer normaal. Sal bietjie dink aan julle voorstel

Hallo Nimsi,
Jy is reg, mens staan jouself maar moeilik af aan andere, Ons moet net aanhou oefen.
Gaan bietjie rof op die oomblik, kry nie kans om bietjie ander blogs te lees nie
Groete