Monday, March 2, 2009

INSPIRASIE

Is jy, vir jou medemens met wie jy elke dag skouerskuur, ‘n inspirasie en ‘n seën, of is jy ‘n doemprofeet wat altyd die slegste ding sien en verkondig? As ons so rondom ons kyk is daar so baie dinge om oor te kla, maar die vraag is, help ons klaagliedere enigsins om dinge te verbeter.

Wat sal ons negatiewe praatjies nou mee help om die swak ekonomie te verbeter, of om die misdaad te verlig of om die oorlog in die of daardie land te stop? Net mooi niks nie..!

Let bietjie op dat ons geselskap die meeste van die tyd negatief is. Ons praat liewer oor die persoon wat iets negatiefs aangevang het as oor die persoon wat positief hoë hoogtes bereik het. Ons praat liewer oor ‘n persoon se slegte eienskappe as oor so ‘n persoon se goeie eienskappe. Ons spreek dood in ander mense se lewens of ons laat toe dat hulle dood spreek in ons lewens! Dit is ‘n siklus waaruit ons moet wegbreek en ons wegdraai van die negatiewe waarmee ons gebombardeer word, en miskien waarmee ons ander bombardeer.

Ons moet ons met positiewe mense omring dan sal ons ook begin om positiewe ding te praat en ‘n positiew gees uit te straal.

Ek lees nêrens in die Bybel dat Jesus in Sy aardse wandel negatief was nie. Hy het net positiewe ding gesê en positiewe dinge gedoen. Siekes genees, dooies opgewek, dowes laat hoor, stommes laat praat, kreupeles laat loop, blindes laat sien…..!

Nooit het Jesus ‘n treurmare gemaak van die dinge wat Hy geweet het wat kom en wat met Hom sou gebeur. Hy het stuk stuk deur gelykenisse met die mense gepraat en al die dinge aan hulle bekend gemaak sonder om negatief daaroor te wees. Hoe het Hy dit reg gekry? Hy het deurentyd Sy oë op God gerig gehou. Hy het heeltyd binne die wil van God gebly, Hy het nie bietjie Sy eie pad geloop soos ons soms doen nie! Nee, Hy het God se pad geloop, sonder om een oomblik te wankel, tot die einde toe.

Kom ons draai weg van hierdie negatiewe manier van lewe, kom ons verander ons modus operandi, kom ons gaan haal elke oggend die positiewe direk van die Here af voordat ons werk toe gaan. Dan wanneer ons uitgaan en met mense praat en skouerskuur inspireer ons hulle met al die mooi en wonderlike dinge wat elke dag oplewer. Sit effort daarin om die positiewe uit te lig in elke situasie ipv die negatiewe. Almal om ons praat negatief daarom sal dit moeilik wees om stroomop te swem. Dit is net om eers daardie eerste tree te gee. Die Here sal ons help

May the Lord bless you so that you can be a blessing to others!

3 comments:

Anonymous said...

Goeie naand oom Petrus, dis sam oom, ek wil assb vir oom vra of ek vrydg aand by ons kerk se jeugdiens oom se verhaal van 31jan kan gebruik, my ma het gese ek kan dit nie sondr oom se toesteming gebruik nie, en sy se ek moet ordentlk spel as ek met oom praat, jmmr oori vorige speling oom.
Sal oom my assb lat weet oor die verhaal.
Nag oom
Sam

mariki said...

Absoluut is dit ons as christene se plig, OomP! En ons sal verbaaaas wees oor hoedat die Here ons lewens in vreugde sal verander as ons hierdie gehoorsaamheidstap (laat julle woorde met sout besprinkel wees), gaan neem. Nie naasteby maklik nie, maar ons Here is getrou!

Oom Petrus said...

Hallo Sam,
Jy kan met groot liefde die verhaal gebruik. Soos jy kan sien het ek dit ook van my niggie af ontvang.
Sterkte vir Vrydagaand.


Hallo Mariki,
Dit is tog so waar, ons moet net voortgaan om daaraan te werk.