Tuesday, February 10, 2009

BRUILOFSKEUSE

Die alleenstaan kerkie op die rantkant van die dorpie is ‘n bynes van bedrywighede. Dis die laaste skoonmaak, mooimaak, regmaak want netnou gaan ons bruilof maak, vol vrolikheid, lag en gesels. Verveelde stoffies sweef lusteloos neer op die gekraakte sementvloer kort na ‘n yl behaarde besem hul rus kom verstoor het.

Hier en daar gly helder sonstrale geruisloos driftig deur die sinkdak om opnuut die helder kleurige papierlinte teen die dakbalke op te vrolik. Blink geskuifde houtbanke wag gretiglik op gaste, want vandag maak ons bruilof, en almal moet sitplek hê. Aan die voorkant van die kerkie, toring ‘n lendelam preekstoeltjie hoog bo vier stoele uit wat netjies onder ‘n staaltafel met die kleurvolle blommetjies vir die bruidpaar en gevolg in geskuif is.

Dis kort voor drie en die bruilofsgaste stap al laggende die geboutjie binne. Dan knikgroet hul mekaar met stywe nekke terwyl die glimlagte op hul gesigte eensklaps verdwyn. Gedienstig en gedwee neem hul sitplek in en wag op die bruid en haar gevolg. So in die stilte daal ‘n vredevolle heiligheid oor die wagtendes neer. Kort neffens drie en Bonnie stap die klein oorvol kerkie in op maat van sonbesies se skril gegil. Haar blinkswart oë lag en dans en jubel op maat van haar eie onhoorbare musiek, want vandag is haar spesiale dag. Haar dag om op vyftigjarige ouderdom vir die eerste keer bruid te wees, uitverkore te wees, haar dag om meer as net ‘n vrou te wees. Vandag is sy spesiaal, sy is bruid vir haar bruidegom, hy het haar dan uit al die hubares op Noenieput en Swartkopdam gekies. Vandag is sy bruid want sy het gekies om Swart Piet Witbooi se bruid te wees.

Die prediker hou dit kort en kragtig en vertel van ‘n keusepad vorentoe. ‘n Informele bevestiging ontlok ‘n spontane handeklap want Swart Piet se oë diamant met die verklaring sy liefde en dit nogal voor almal teenwoordig. Bonnie tienerbloos en giggel koeskop met die aanhoor van sy hartswoorde, want sulke mooi hartswoorde het hy nog nooit voor ander gesê nie.

Ver vergete in Swart Piet se gisters van ‘n handvol jare gelede, is hartsgoed van ‘n lewensmaat wat in sy arms sterf, en stukkend skeur trane wat saam met elke graaf grond daardie begrafnisdag oor haar houtkis spat. Vandag kan hy weer Noenieput se mense in die oog kyk en bewys dat hy gekies het om geluk te smaak en ‘n lewe te maak saam met haar wat sy hart vinniger laat klop.

Dis ‘n paar dae later en goudgeel sonstrale wat oor die Kalahari vlak loer, kondig Oktober se heel eerste dagbreek aan. Oktobermaand, deur die eeue heen die mooiste maand, die lente bloeisel maand, ‘n kom-ons-vergeet-die-koue-maand, ‘n nuwe begin maand. Saam sit ek en Vroulief op ‘n koue sementbankie terwyl ‘n goudkleurige sonop sy wye arms om ons uitstrek. Die vars spore van September se laaste Saterdag se openbare bruilofsverklaring voor Noenieput en sy mense is diep afgedruk op die onthou plek in ons harte.

Saggies omvou ‘n sagte koelte briesie ons en kondig verfrissend so die realiteit van Sy ewigedurende liefde aan. Ek hou haar hand liggies vas en gee dit ‘n stilte drukkie. ‘n Stilte drukkie wat deur al die jare heen soveel kere woordeloos beskryf het wat in my binneste binne hart omgaan. Sy glimlag stilweg en ek weet sy onthou, ............ onthou meer as net daardie enkele hoogtepuntdag. Sy onthou bondels vlinders met die keuse oor mekaar, die hofmakery, die verlowing en daardie hoogtepunt troudag meer as twee dekades gelede. Sy onthou baie meer as bloot net ‘n gekies hier en daar, sy onthou ‘n leeftyd vol keuses.

Dan, in die oorverdowende Goddelike fluistering van ‘n vroegoggend gesprek met Hom daardie eerste oggend van die mooiste maand, herinner Hy my aan Sy hofmakery en liefdesdaad aan die kruis asook my en jou se keuse van ‘n uitknieldag en ‘n spesiale inkoop. ‘n Inkoop in ‘n dieper gemeenskap met die Veilige Gees en ‘n oorvloedslewe saam met Hom.

‘n Herinnering en bekragtiging van Sy onvoorwaarlike vleklose liefde vir die wat kies om deel van sy Bruid te wees. Hul wat blinkoog styf langs die Bruidegom aan die Bruilofstafel gaan sit.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ......................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene
DIVINE LIFE MINISTRIES
(Landlyn 054-551 1000)

3 comments:

Anonymous said...

More Oom petrus, dankie vir die mooi inskrywing en al die ander van elke dag, ons is vier dames wat elke oggend eers hier lees voor hierdie kantoor begin lewe en bewe. Ons kan nou wel nie elke dag kommentaar los nie, maar wil graag net dankie se vir hierdie boodskappies. oom moet asseblief nooit ophou nie.
Groete uit vereeniging
Ina, Kim, Rina en Santa

mariki said...

Soos jy altyd sê, OomP: "eendag"...daai wonderlikste bruilofsmaal ooit...!

Oom Petrus said...

Hallo Ina, Kim, Rina en Santa,
Baie dankie vir julle besoekies en dat julle hier lees ek waardeer dit baie.
Groete



Hallo Mariki,
Dankie ook ver jou besoekie, ja ons moet sorg dat ons saak met Hom reg is en reg bly, sodat ons nie sal agterbly nie.
Groete