Monday, May 18, 2009

DIE SPLINTER EN DIE BALK

Haai hierdie ou mensdom is maar 'n snaakse klomp. Sit altyd soos 'n valk op 'n doringdraad en kyk net wie se oog hy kan uitpik. Kry ook nie klaar met net een nie, maar wil altyd 'n hoop oge voor hom hê. Ek praat nou eintlik van die foutvinderiges, wat altyd die splinter in die ander ou se oog soek. Niks is ooit reg en na jou smaak nie, o nee, jy moet altyd 'n bekvol te sê hê oor ander.
"Kyk wat het ou Willem nou weer gekoop, dit is nou pure geld mors." Jy hou hom dop terwyl hy die vistenk agter van sy bakkie aflaai." Hy kon darem iets baie beters met daardie geld gedoen het." Sê jy terwyl jy daardie 72 duim televisiestel agter uit jou 4x4 laai.

"Kyk wie het ou Ans nou weer helder oordag onthaal, sal darem like om te weet wat gaan agter daardie toedeure aan." sê jy aan jou linkerkantse buurman waar julle op jou voorstoep sit en tee drink terwyl jou man by die werk is. Julle hou die lang maer blondeman dop terwyl hy vir Ans styf teen hom vasdruk by die voordeur en dan vinnig die trappe afstap na die motor wat al die afgelope drie ure daar geparkeer staan.
Matt 7:1-3
"Moenie vitterig wees nie. Hou op om mense links en regs te oordeel sonder dat julle vooraf eers vasgestel het wat die regte feite is. As julle dit doen, gaan God presies dieselfde met julle doen.
Dit is maklik om 'n klein foutjie in iemand se lewe raak te sien terwyl jy blind is vir die groot klomp sondes in jou lewe. En dan het julle partykeer nog die vermetelheid om ander mense te kritiseer oor hulle paar foutjies terwyl julle niks aan julle eie blindheid doen nie. Dit is die toppunt van skynheiligheid! Daan maak eers al die foute in julle eie lewe reg. Daarna kan julle mense help om te doen wat God hulle vra.
"Ek wil egter waarsku: moenie slegte mense probeer help nie. Hulle het geen respek vir God nie. Hulle verstaan glad nie wie Hy is en watter voorreg dit is om Hom te dien nie. Moenie julle tyd mors om met hulle oor God te praat nie. Hulle sal Sy goedheid soos 'n trop varke onder hulle voete vertrap.
Boonop gaan hulle julle ook net slegsê.

Uit: Die Boodskap van Jan van der Watt en Stefan Joubert