Sunday, May 10, 2009

MOEDER

Ken jy al die name wat 'n kind die vrou noem wat hom of haar in die lewe gebring of alternatiewelik groot gemaak het? Hoe klink: Moeder, Moekie, Moeka, Mammie, Moedertjie, Ma, Moeksie, Mamma en dan daardie gewilde een wat elke Mammie se hare laat regop staan wanneer hulle, hul kind vra om iets te doen: :"JA MA."

Kinders kan nie verstaan dat ma's altyd weet wanneer hulle besig is om droog te maak nie, al is dit nou ook agter 'n toe kamerdeur. Moeders is geseen met 'n sesde sintuig omdat daar 'n ingesteldheid by hulle is om ten alle tye te weet hoe dit met hulle kinders gaan.
Moeders is goeters wat verskriklik mooi opgepas en verskriklik goed behandel moet word deur hulle kinders.
Exodus 21:15,17 Is baie baie, baie duidelik: Hy wat sy moeder slaan of vloek moet sekerlik gedood word.
Deut 27:16 Vervloek is hy wat sy moeder verag.
Spreuke 1:8 ........vewerp die onderwysing van jou moeder nie.
Daar is 'n liefdesband tussen moeder en kind wat strek oor oseane heen en wat nooit verbreek kan word nie. Ten minste nie van die moeder se kant af nie. In 'n moeder se oe sal haar kinders ook nooit groot word nie, hulle bly altyd klein al is moeder tagtig en kind sestig jaar oud.
Moeders verdien die respek en liefde van hulle kinders. Deut 5:16 Eer jou moeder soos die Here jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die Here jou God aan jou gee.
Kan jy onthou wat jy by jou moeder geleer het? By haar het ek geleer om my eerste woordjie te sê, sy het my van Jesus geleer en ook om my eerste gebedjie te bid, om asseblief en dankie te sê, om andere mense en hulle eiendom te respekteer, om mededeelsaam te wees, om ons goed op te pas, om spaarsamig te wees.
My moeder het ons ook behoorlik gestraf wanneer nodig. Spreuke 29:15 Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.
My moeder het ons ook geleer van tuisgebakte brood en vetkoek van dieselfde deeg. Die vetkoek was gebak in skoon skaapvet dan was dit nie so vetterig soos wanneer dit deesdae in olie gebak word nie. Van die deeg het sy ook so oopgetrek en bo-op die vleis gekook, dit was 'n wonderlike dis, as die sous so deur die deeg gekook het saam met aartappels en pampoen Sy het 'n spesiale melktert gebak wat nie eiers bevat nie maar met melk en maizina gemaak word. Dit was die lekkerste lekker op 'n spesiale geleentheid. Dan het sy ook bron gemaak, 'n vleisdis wat jou, jou vingers laat afeet.
As ek terugdink aan haar, reeds meer as twintig jaar nie nie meer by ons nie, dan hoor ek haar nog sê: "moenie wag tot iemand dood is voordat jy vir hom/haar blomme gee nie, gee dit wyl die persoon nog lewe. Sy het ook altyd van haar silwergrys hare gepraat as haar grafblommetjies.

As jy vandag nog 'n moeder het, wees lief vir haar. Besoek haar gereeld, sy sit daagliks en wonder wanneer kom kuier jy vir haar. Wanneer sy nie meer daar is nie is nie, is daardie geleentheid vir altyd verby en is daar baie dinge wat jy haar nog sou wou vra, waarop jy nooit haar antwoord sal hoor nie........!

1 comment:

Nimsi se Blog said...

Dankie hierdie is n pragtige stukkie.
Was bevoorreg om my moeder gister te kon bederf.

Ans
Leef bidkamer