Friday, May 1, 2009

'N GELESDE LIEFDESDORS

Groete en Vrede!!!

Die verwaarloosde grondpad waarop ons stap, strek lank en reguit voor ons uit. Kort-kort gly my oë oor die Kalahari vlak wat op sy eie unieke manier, groen geil na verskeie somer reënbuie is. Kniehoog kort boesmangras met hul sagte saadpluime, staan skeef in die reënwind wat amper geruisloos oor die Kalahari vlak waai. Verwagtend dans hul heen en weer op maat van onhoorbare wind musiek, want net-nou gaan die soetwater van bo weer val. Amper vergete is die onthou van ‘n droë, wyd uitgestrekte wit en rooi sandduin vlakte, wolklose hemel en ‘n rooigeel skroeiende son.

Die dag was lank en moeisaam en ons wil aanstons by haar loop stilstaan voordat die son slaapplek opsoek. Sy, met die sagte swartbruin oë en wit glimlag wat desnieteenstaande ‘n uitmergelende liefdesdors in haar hart rond dra. ‘n Mooi vrou wat op 28 jarige leeftyd, hoopvol en opreg, hul derde voorkind verwag.

Haar papperige handdruk met die groet, vertel haar lewensverhaal. ‘n Verhaal deurtrek met minderwaardigheid, vernedering, en die rou werklikheid om in totale afhanklikheid van ander mense te lewe. Daarmee saam is sy voorwaar vertroud met die realiteit van ‘n diep gesukkel om bloot net menswaardig te wees. Ons stap in en so met die sitslag steek sy haar hande onder haar bene weg en sit windpomp regop langs die Mooiste Mooi.

Eers proes en stik die gesprek soos ‘n halstarige Lister en tel daarna al hoe meer spoed op. Dan draai die gesprek in Sy rigting en so skilder sy ‘n kleurvolle woordskildery van onse God. Dit terwyl haar dorstige oê grondwaarts kyk. In ‘n poging om Hom as Almagtige te bekroon word woorde soos respek, agting, eerbied, ontsag en ‘n bewondering vir God se grootheid kwistig inmekaar geweef. Mooi woorde, diep woorde, hartswoorde, beïndruk woorde, kerk woorde – voorwaar bewonderingswaardig.

In die stilte wat daarop volg, besef ek met weerligstraal spoed dat mooi woorde, kerk woorde, beïndruk woorde soos ‘n groot diepsand dwarsduin tussen haar en die les van ‘n uitmergelende liefdesdors staan. ‘n Dwarsduin bestaande uit gevestigde sienings, geykte sê dinge en ‘n slaafse navolging van oorlewerings. En buite val die soetwater saggies op die dak.

Hy alleen kan elkeen se unieke uitmergelende liefdesdors les. Hy alleen het die voorhangsel dwarsduin gekloof sodat Hy alleen ‘n styf-teen-mekaar-staan verhouding met jou kan hê want Hy het jou eerste liefgehad.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ....................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene

DIVINE LIFE SENDING.

(Landlyn 054-551 1000)

No comments: