Tuesday, May 12, 2009

HET JY AL BEVORDERING GEKRY?

Wat beteken dit om 'n Christen te wees?
Dat jy grootgeword het in 'n huis waar jou ouers so af en toe kerktoe gegaan het en vir jou uit die kinderbybel gelees het. Jou in die Sondagskool gesit het waar jy elke keer as jy daar kom 'n lessie gehoor het van een of ander voorval uit die Bybel. Jy moes ook vir elke keer 'n nuwe teksvers leer wat al die kinders in die klassie uit hulle koppe moes opsê. Julle het liedjies geleer gesing en eenkeer in 'n jaar 'n Sondagskoolpiekniek bygewoon.

Ons ouers het ons geleer rympies bid, ek kan nog so goed onthou die eerste gebedjie wat my ma my geleer het: "Liewe Jesus neig u oor, wil tog my gebedjie hoor. Hou deur hierdie lange nag oor U kindjie trou die wag, Amen." Die het ek getrou elke aand gebid voordat ek gaan slaap het. Soos ons groter word , kom ons naderhand by die Onse Vader uit en leer ons om dit te bid. Dit is presies waar ons vassteek, vandaar af bid ons net die Onse Vader en ons vorder niks verder nie. Alles wat ons dink ons moet sê of vra word in hierdie gebed ingesluit en daarom word dit ons standaard gebed waarmee ons aand vir aand ons dag afsluit wanneer ons in die aand in die bed klim. Ons deurloop naderhand 'n periode waar ons voorberei word om by een of ander kerk aan te sluit. Ons leer 'n klomp vrae en antwoorde uit 'n boekie uit, ons leer die spesifieke denominasie se geskiedenis en dan op 'n Saterdag word ons aan die gemeente voorgestel en op die Sondag word ons aangeneem en dan mag ons nagmaal gebruik. Nou is ek 'n Christen!

Waarheen van hier af? Die pad wat ek van hierdie punt af geloop het is seker nie die pad wat die meeste mense loop nie. Of dalk is dit, ek weet nie! Ek het 'n paar keer na die aanneming die dienste bygewoon, maar dit het al minder en minder geword want ek het begin werk en watter dag is die beste om daardie eerste motor skoon te maak? Sondag natuurlik. Na die vorige aand se gefuif, slaap jy lekker laat op Sondagoggend en dan spandeer jy die grootste gedeelte van die dag aan daardie motor, poets hom so blink soos 'n bottel. So van 18:00 uur af is jy oppad na die middestad toe want so 'n bietjie later is dit tyd dat die manne met die vinnige motors mekaar uitdaag en dan verander Voortrekkerstraat in 'n renbaan.
Eenmaal per jaar op Oujaarsdagnag dan het ek my Christenskap gaan hernu deur 'n kerkdiens by te woon en dit was ook die som totaal van my beoefening daarvan.
Ja ek was vir baie jare 'n Christen wat in die aand die Onse Vader opgesê het, Psalm 23 uit die Bybel gelees het en een maal per jaar kerktoe gegaan het.

Sedertdien het alles in my lewe verander. Ek het 'n ware ontmoeting met die Here gehad, ek gaan indien moontlik elke Sondagoggend en Sondagaand kerktoe, ek lees my Bybel en hou elke oggend stiltetyd voordat ek werktoe gaan. Ek versuim nie om die ander onderlinge byeenkomste wat aangebied word, by te woon nie. Ek bid nog soms die Onse Vader, nie omdat ek daar vasgehaak het nie maar omdat ek vandag presies weet wat ek sê wanneer ek die gebed bid. Psalm 23 bly vir my 'n pragtige gedeelte en ek lees dit ook soms vir stigting, maar dit is nie meer my somtotaal van my Bybellees nie. Ek leer die Woord van die Here ken en ek geniet dit om daarin te lees, want deur Sy woord praat die Here met my en deur wonderlike tye van gebed praat ek met die Here. Ek gesels met Hom soos met 'n vriend, ek vertel Hom alles wat my pla, alles wat ek wil doen. Ek maak al my behoeftes aan Hom bekend, alhoewel die Here reeds weet wat mens se behoeftes is wil hy steeds hê jy moet dit vir Hom vertel.
Ek het die sekerheid in my hart, as die dood my vannag kom haal, ek saam met Jesus in die hemel sal wees. Ek het daardie sekerheid gekry die dag toe ek my sondes teenoor God bely het en klaargekry het daarmee.

Ja, ek is steed 'n Christen, maar ek het bevordering gekry en is nou ook 'n kind van God.

Jy kan ook daardie bevordering kry, dit is binne jou bereik, maar die keuse is joune en joune alleen.

No comments: