Thursday, May 14, 2009

DIE WEDLOOP

Ons kom almal een of ander tyd op daardie punt waar ons iemand om raad moet vra. Miskien vra ons nie regtig 'n antwoord nie, maar meer 'n gewillige oor om te luister, 'n klankbord! Iemand wat ons kan vertrou met ons privaatheid. Iemand wat ons kan bemoedig. Iemand wat ons kan vertroos. Iemand wat ons kan ondersteun. As ons regtig in 'n baie slegte situasie verkeer, dan soek ons dalk iemand wat vir ons bietjie hoop en vertroue op die toekoms kan gee. Wat is die lewe sonder die hoop dat daar 'n beter toekoms voor ons lê. Ons hoop moet positief wees want negatiewe hoop help ons nie veel nie.
As ons onder die waan verkeer dat ons medemens on sal kan help om deur hierdie wanhopigheid te breek om weer hoop te hê, dan sal ons maar bedroè daarvan afkom. Hulle kan ons miskien help om kortstondige hoop te ervaar, hoop wat binne 'n dag of twee weer opdroog, maar permanente ewigdurende hoop, daarmee kan hulle ons nie help nie.
Jy sien, ons is almal maar in dieselfde bootjie, ons sit almal met dieselfde probleem, ons probeer maar almal onder mekaar raad vra, ons wil graag almal bemoedig word, ons soek maar almal van tyd tot tyd ondersteuning en van tyd tot tyd gee ons almal aan mekaar hoop.

Wat nou van die hoop op 'n wonderlike ewige lewe? Daardie hoop wat ons in ons harte koester dat ons eendag deel van daardie elite groep gaan word wat ons reeds voouruit gegaan het. Hulle wat reeds hulle ereplekke in die stadion van die ewige lewe ingeneem het. In daardie stadion gaan ons almal se wedloop eindig. Ons is besig met 'n wedloop wat ons eers aan die end van ons lewens kan voltooi. Die jammerte is net dat almal wat op aarde lewe nie ook daardie wedloop sal hardloop nie. Daar is net 'n sekere groep wat dit gaan maak. Dit is maar soos om aan die Comrades wedloop deel te neem solank jy in die wedloop is , staan jy in 'n goeie kans om klaar te maak.
Heb 12:1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
As jy egter langs die pad stop en gaan sit dan neem jy nie meer deel volgens die reels van die wedloop nie. Dan kan jy ook nie verwag om die wedloop klaar te maak nie. Daar is nog al die ander wat nie eers aan die Comrades deelneem nie? Hulle kan mos nie verwag om in aanmerking te kom vir een van die medaljes nie, hulle het nie eers ingeskryf en probeer om die wedloop te hardloop nie. Dit is soos dit gaan in die wedren van die ewige lewe ook, daar is baie wat nie inskryf nie, ma en pa skryf in, maar die kinders wil nie, of anders om kan die kinders inskryf en pa en ma wil nie. Die wat nie inskryf en begin deelneem nie kan nie op die rug ry van die wat wel ingeskryf het nie. Die een kan die wedloop vir die ander een hardloop nie.
Dink net hoe wonderlik sal dit wees wanneer ons die dag daardie stadion van die ewige lewe ingedraf kom en daar staan 'n menigte in 'n erewag om ons toe te juig, ja daar staan Oom Abraham, Oom Isak, Oom Jakob, Oom Paulus, Oom Johannes, Oom Noag en vele ander wat ons herken op ons laaste gedeelte tot by die wenpaal waar Jesus vir ons wag.

2Ti 4:7 Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.

No comments: