Monday, May 11, 2009

EEN VAN TWEE EINDBESTEMMINGS

Hoe laag op jou lysie van die tien belangrikste goed wat jy daagliks doen lê jou tyd met die Here? Hou jy ooit stiltetyd? Gaan jy ooit kerktoe? Wanneer almal by die werk tydens etenstyd of teetyd dalk iets sê oor wat hulle in hulle stiltetyd gelees het, dan sit jy eintlik met jou mond vol tande en voel jy skuldig en verergd omdat hulle alweer "kerk" praat. Het hulle dan niks beters om oor te praat nie, nou kom hulle hier op 'n Maandagoggend en praat oor goed waarmee ek nie op hoogte is nie. Hulle praat nou oor gister se dienste, wat alles daar gebeur het en wat die Prdiker gesê het wat so 'n indruk op hulle gemaak het. Jy kan sien dat daar 'n opgewondenheid is wanneer mense oor Geestelike sake gesels maar jyself het nie daardie gevoel en lus om opgewonde te raak oor kerksake en die Bybel nie.
Waar lê die fout, by my of by hulle? Ek gaan mos so af en toe kerktoe, wanneer ek die behoefte het en ek lees mos my Bybel so af en toe wanneer ek iets soek om my te troos, gewoonlik is Psalm 23 'n goeie troospsalm wat ek eintlik uit my kop ken van kleintyd af. Ek raak net partykeer deurmekaar en ruil versies met mekaar om, maar ek ken hom. Ek bid die Onse Vader wanneer ek voel ek wil bid, en as ek dit gedoen het dan voel ek sommer beter. My ma het my mos geleer om so te bid toe ek nog in die huis was en as ek reg onthou dan staan dit in die Bybel dat ons so moet bid! So wat is daar nou eintlik meer om te doen? En buitendien godsdiens en hoe ek voel is 'n privaat saak wat eintlik niks met met niemand uit te waai het nie. So die alewige gesels oor die sake by die werk is pure dwepery, sê ek jou. Daar moet 'n verbod op geplaas word dat daar nie oor godsdiens of politiek by die werk gesels mag word nie, want altwee onderwerpe is privaat en hoe ek daaroor voel het niks met iemand anders uit te waai nie.
Kan ek jou nou vanoggend nog verder krap? Wat van tafelgebed, bid jy voordat jy eet, as jy alleen is of by die huis of val julle as huisgesin maar net in en eet sonder om te bid. Wat van in 'n restaurant, bid julle voordat julle eet. Nee, ons bid gereeld voordat ons eet as ons as gesin saam is, andesins bid ons ook maar nie, maar in 'n restaurant bid, dit is in die openbaar, daar moet elkeen maar vir homself bid.

As dit is hoe jy voel, dan val die Here nie eers onder die tien belangrikste punte op jou prioritetslysie nie. Dan is Hy seker nie eers op 'n lys van die honderd belangrike goed wat jy in jou lewe wil doen nie. Waarvoor lewe jy dan, lewe jy net vir die lewe self, het jy geen begeerte om die Here te dien nie? Hoe kom jy deur die krisisse in jou lewe, of is jou lewe altyd sonder enige laagtepunte. Spring jy van die een hoogtepunt na die ander.
Dan lewe jy in 'n ander wêreld, 'n wêreld waar daar net voorspoed heers, waar jy elke dag meer geld in die hand het as wat jy wil hê met geen vooruitsigte dat dit kan opraak nie, waar daar nie siek kindertjies is nie, waar daar by die werk geen probleme opduik nie, al is dit ook nou in jou eie besigheid. Dan het jy nooit verskille met ander mense nie, jy voel nooit olik nie, jy weet altyd wat die regte ding is om te sê. Dan is jy totaal op jouself aangewese, jy het niks en niemand in jou lewe nodig nie
Ek wil net vir jou iets vra, en as jy die dag by die einde van jou lewe kom, wat dan? Wil jy graag sterwe soos jy gelewe het, sonder God? Wat 'n verskriklike dag sal dit nie wees nie.
Aan die einde van elkeen van ons aardse lewens is daar die ewige lewe, want ons het almal 'n onsterflike siel. Daar is net een van twee eindbestemmings - die ewige lewe saam met God of die ewige lewe in die verderf. Dit is die keuse wat jy op aarde al moet maak, jy kan die keuse nie in die dood maak nie, want dan is dit te laat.
Die Here waarsku jou om nie die wye weg te volg nie: Mat 7:13 Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Die meeste mense is op daardie wye weg, Fil 3:18 Want baie—van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê—wandel as vyande van die kruis van Christus. Fil 3:19 Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.
Vir diegene wat die Here hier op aarde dien sê die Woord in Fil 3:20 Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,
Php 3:21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.

Ons het almal keuses om te maak oor hierdie saak. Ons kan nie afsydig hieroor staan nie. Ons kan nie na die dood ons keuse verander nie ons moet kies terwyl ons nog in die lewe is. Dit is of die ewige verderf of die sonder God of die ewige lewe met God.

Watter eindbestemming kies jy?

1 comment:

Nimsi se Blog said...

U het waarlik skryftalent!
Oorweeg gerus n publikasie.

Ans
leef bidkamer