Friday, May 15, 2009

NET VIR ONS GELEEN

Dit is Donderdag oggend, ons laaste dag hier in Ballito. Moreoggend vroeg vat ons die pad Swaziland toe waar ons die naweek vir ons enigste seun en sy vroutjie gaan kuier. Sy is nou verwagtend en hier iewers in Julie sal ons ouma en oupa word. Wat 'n wonderlike vooruitsig om te hê! Ek het altyd gedink hulle sal maar van oorlede oupa praat :0)) maar nou lyk die moontlikheid om oupa te word baie beter. Dink net daaraan hoe die Here daardie ou babatjie in haar magie geweef het, ragfyn aartjies en senuweetjies, orgaantjies, hartjie, longetjies en alles is mooi bymekaar ingeskakel. Die een orgaan is so interafhanklik van die ander, en die Here het presies geweet hoe alles inmekaar skakel. Dit is 'n wonderwerk op sy eis, en daardie dag wat sy gebore word. dan blaas God sy asem in haar longetjies en dan begin alles saamwerk om haar aan die lewe te hou. 'n Godelike wonderwerk!

Die kleur van die water is vanoggend so 'n donker bottelgroen en nie blou soos wat algemeen gesê word nie. Maar of dit nou blou of groen is, God het die water gemaak toe Hy land en see van mekaar geskei het. Ons binnelanders kan ons oe nie van die, altyd bewegende water afhou nie. Ons kan vir ure daarna staar, en die ontstuimigheid van die water bring gewoonlik kalmte in ons ontstuimige gemoed, hoe paradoksaal dit nou ookal mag klink. Dit moet sekerlik wees om dat ons ons so verwonder aan die almag van God wat dit gemaak het. Die brekende branders met hulle wit skuimkoppe. Die geluid wat die water maak wanneer die branders teen die rotse breek en die water so 'n streep in die lug opspat. As jy dieper in die oseaan inkyk dan sien jy daar vêr die wit skuimkoppies van die water, dit is nie branders wat daar breek nie, net die botoppe van die deinings wat so saggies omrol. Wat laat die water so altyd beweeg? Daar is sekerlik 'n wetenskaplike rede daarvoor maar ek weet nie wat dit is nie, vir my lyk dit of God die water met Sy hande roer of met Sy asem blaas dat daar altyd beweging is. Dit bring my weer opnuut onder die indruk van Sy almag.

Die see is 'n interessante plek en het nogal 'n rol gespeel in Jesus se wandel hier op aarde: Terwyl Jesus langs die see van Galilea gestap het, het Hy twee broers, Simon en Andreas gesien waar hulle besig is om vis te vang. Hy het hulle geroep en gesê: "Kom agter My aan en ek sal julle vissers van mense maak!" En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg. 'n Ent verder het Hy vir Jakobus en Johannes gekry besig om hulle nette te herstel, en Hy het hulle geroep. Hulle het dadelik die skuit verlaat en Hom gevolg. Op 'n ander geleentheid was Jesus saam met Sy dissipels in 'n bootjie op die see, 'n storm het losgebars terwyl Jesus rustig agter in die boot gelê en slaap het. Sy dissipels het gepaniek en Hom wakker gemaak. Hy het die wind bestraf en die see het kalm geword en hulle het veilig oorgevaar na die anderkant. Op 'n ander geleentheid het Jesus op die see gewandel terwyl Sy dissipels besig was om met 'n bootjie oor te roei, en toe Petrus die begeerte ontwikkel om ook op die water te loop, het Jesus vir hom gesê kom. Na 'n paar tree het Petrus sy oe van Jesus afgehaal en na die omstandighede rondom hom gekyk, en net daar het hy vertroue verloor bang geword en begin sink. Jesus het hom gou die hand gereik en hom uitgehaal en hulle is in die bootjie.
Ek filosofeer net vandag 'n bietjie en dink aan die grootheid van die God wat ons dien. "n Lewendige God wat alles wat ons sien geskape het en dit alles vir ons so mooi gemaak het. Aan wie alles behoort. Wat ons het is net vir ons geleen en daarna moet ons mooi kyk. Ons dink ons het geld, God het dit net vir ons geleen, ons moet mooi kyk hoe ons daarmee omgaan. Ons dink ons het kinders, ook hulle is net aan ons geleen met 'n verantwoordelikheid teenoor die Here dat ons hulle moet oppas en reg grootmaak.
Daardie ou babatjie in Madi se magie het nie gevra om daar te wees nie. Daardie geskenk van die Here af, bring 'n baie groot verantwoordelikheid op die kinders se skouers en ook ons as oumas en oupas dra daardie verantwoordelikheid. Hulle moet daardie ou babatjie, wat nou nog nie eers 'n naam het nie, liefhê en haar mooi versorg. Sy moet so grootgemaak word dat sy die Here ken en liefhê wanneer sy groot is.Daar rus ook 'n plig op almal om te sorg dat sy veilig voel tussen grootmense. Kinders mag nie gepla word nie, hulle moet 'n vry en gelukkige kinderlewe hê en nie klein grootmensies wees nie.
Ons moet mooi na hulle kyk, hulle is net vir ons geleen!

No comments: