Friday, May 8, 2009

MôRE

Ons het almal 'n môre wat vir ons onbekend is. Ons het natuurlik almal die begeerte om te weet wat môre vir ons inhou, maar deur die genade van die Here word dit vir ons verberg. Wanneer ons met die dilemma sit om te weet wat die toekoms vir ons inhou, moet ons nie gefrustreerd of bekommerd raak daaroor nie, ons moet ook nie karring om na fortuinvertellers of waarsêers toe te gaan om te probeer vasstel wat die toekoms inhou nie. Dit is geld in die water gooi.

Jongmense bekommer hulle of hulle môre 'n werk sal hê wanneer hulle klaar is met skool of universiteit. Ouer mense bekommer hulle of hulle instaat sal wees om te oorleef op die pensioen wat hulle kry of gaan kry en die ander is bekommerd of hulle die bevorderings sal kry sodat hulle hoog op die leer in die korporatiewe wêreld sal kom. Nog 'n groep is weer bekommerd of hulle instaat sal wees om daardie karpaaiement te kan aanhou betaal en hulle gesinne te kan onderhou omdat die lewenskoste aanhou vinniger toeneem as wat die salarisse styg. En elkeen wil graag weet hoe lyk sy toekoms want dalk sal dit die kwellings verminder.
Matt 6:25 - 7:3
Ek haal aan uit die Boodskap van Jan van der Watt en Stephan Joubert
"Moenie julle gedurig loop en bekommer nie. Julle kan tog niks aan julle omstandighede verander deur dit te doen nie.
"Mense bekommer hulle gedurig of hulle genoeg gaan hê om van te leef. Moenie soos hulle maak nie. Die lewe gaan tog oor meer as kos en klere. Julle het in elk geval 'n Vader in die hemel wat vir julle alles gee wat julle nodig het om van te lewe. Kyk 'n slag om julle rond. Dan sal julle agterkom hoe Hy vir die hele wêreld sorg.
"Kyk na die voëls: hulle het nie groot skure waar hulle ,hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg kos het. Weet julle, julle is baie meer vir Hom werd as al die voëls in die hemel. Daarom kan julle op Hom vertrou om ook vir julle te sorg.
'Julle moet ook nie sit en tob oor wat julle elke dag moet aantrek nie. Gaan kyk gerus 'n bietjie in die veld hoe mooi die blomme lyk. Hulle werk nie van vroeg tot laat om so te lyk nie. Tog was nie eers die skatryk koning Salomo so mooi aangetrek soos een van hulle nie.
"As God dan soveel aandag gee aan hoe al die veldblomme lyk - wat die meeste van julle nooit eers raaksien nie - sal Hy mos vir julle ook sorg. Hou op om so kleingelowig te wees! Hou daarom op om heeltyd te sê: 'Wat gaan ons vandag eet?' of : 'Wat gaan ons vandag aantrek?' As julle dit doen , tree julle net so op soos mense wat God nie ken nie. Ek sê weer: hou dadelik op daarmee! Julle het mos 'n Vader in die hemel wat presies weet wat julle vandag nodig het. Hy sal ook sorg dat julle dit alles kry.
'Stel God se koninkryk eerste. Doen alles wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee. En los maar môre se probleme vir môre. Van probleme het elke dag immers genoeg. Leef liewer vandag voluit vir God!"

1 comment:

Nimsi se Blog said...

Goeie inskrywigs hierdie week Oom Petrus.
Lekker vakansie hou, ry veilig en rus lekker.

Nimsi