Friday, May 22, 2009

DIE VOLGENDE STAP

Jy het daardie stap geneem en voor die Here gebuig en al jou sondes bely. Van hulle het jy in 'n pakkie voor die Heer neergesit en ander het jy weer een-een bely soos die Heilige Gees jou herinner het. Nou is jy 'n nuwe skepsel in die Here, kyk die ou dinge het verby gegaan en alles het weer nuut geword.
Jou lewe gaan aan soos voorheen en die dag van jou bekering is besig om so effens in die vergetelheid te raak. Jy weet jy het jou sonde bely en jy probeer jou bes om nie sonde te doen nie. As jy die dag iets verkeerds gedoen het dan bely jy dit daardie selfde aand. Stadig begin jy wonder of dit al is wat daar in die geestelike lewe vir jou is. Jy kry tog die gevoel dat jy besig is om iets te mis, maar jy weet nie mooi hoekom nie. Dit gebeur al hoe meer keer dat jy iets verkeerd sê of doen en dit pla jou. Jy is besig om 'n val-en-opstaan lewe te ly. Eendag is jy "on top of the world" en die volgende dag is jy weer so diep in die gramadoelas as wat kan kom. As jy gefouteer het is dit al moeiliker om dit reg te maak. Jy kry die gevoel godsdiens werk nie vir jou uit in jou lewe nie en jy begin wonder of dit als die moeite werd is.
Ons word gewaarsku
Lukas 11:24 Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het.
Lukas 11:25 En hy kom en vind dit uitgevee en versierd.
Lukas 11:26 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.

As ons nie gevul is met die Heilige Gees nie, dan is ons in werklikheid leeg, loop ons die gevaar dat die bo-staande met ons kan gebeur. Ons sonde is pragtig uitgewas deur Jesus se bloed en ons is nou nuut maar leeg omdat ons nog nie Gees vervuld is nie. Heiligmaking is 'n tweede genadewerk wat in ons lewens moet plaasvind. Die eerste is sonde vergifnis en die tweede is Gees vervulling.

As gevolg van die sondeval in die paradys het ons 'n ingebore geneigdheid tot sonde doen. Dit is as gevolg van daardie geneigdheid wat die Woord sê ons is in sonde ontvang en gebore en tot ons nie met daardie geneigdheid tot sonde doen gedeel het nie, sal ons aanhou om sonde te doen. Daardie val en opstaan geestelike lewe wat dit vir ons soms so moeilik maak. Ek wil reg lewe maar voordat ek my kon kry ,het ek alweer...........!

Kniel voor die Here en bely aan Hom daardie geneigdheid tot sonde doen, of die sondesmet in jou lewe waarmee jy gebore is. Jy het dit of jy dit wil glo of nie.
Vra Hom om jou skoon te was in Sy bloed, en vra Hom om jou te vul met Sy Heilige Gees, tot oorlopens toe vol sodat daar nie plek vir iets anders in jou geestelike lewe is nie. In gebed gee ook aan Hom alles, alles wat vir jou tot struikeling is en kan wees. Jou man,jou vrou, jou kinders by die naam, jou motor, jou werk, die kollega by die werk wat vir jou 'n steen des aanstoots is.Gee hierdie keer jou alles.
Gee ook vir Hom daardie skuilhoekie in jou hart wat jy tot nou toe vir jouself gehou het.
As jy by hierdie stap in jou lewe kom, dan moet jy die keuse maak om alles op die altaar te plaas. Jy moet bereid wees om al die verkeerde goed af te lê en te laat staan. Daar mag geen klip in jou lewe oorbly wat nie omgedraai is nie.
As jy nie hierdie tweede stap in jou lewe neem nie, sal jy aanhou met daardie opstaan en val lewe en naderhand besluit dat dit nie vir jou is nie en teruggaan na jou ou lewe toe en dit sal erger wees.(Lees weer Lukas 11:26)
Van hierdie punt af moet jy daagliks vernuwe, om godsdiens te speel is dan iets van die verlede.
Liewe Vader, Ek bid vir al my boeties en sussies wat dit ernstig met U bedoel en ek vra dat U hulle sal help om die regte besluit te neem en ten uitvoer te bring. Here help hulle asseblief om korte mette te maak met daardie sondesmet waarmee ons almal gebore is. As hulle hulle voete op die pad van heiligmaking sit Here, help hulle asseblief om daarop voort te gaan. Here dit is nie so maklik om alles op die altaar te plaas nie, maar help hulle om dit te kan doen. Dankie dat ek dit kan vra in die wonderlike naam van ons Verlosser, Jesus Christus,Amen

No comments: