Thursday, May 28, 2009

WAT KOS JOU GELOOF JOU

Is die naam Maximilian Kolbe aan jou bekend? Wel, hy was 'n Fransiskaanse priester wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog ook as 'n gevangene in Auschwitz beland het. Toe ontsnap iemand uit die selblok waar hy aangehou is.
Die reël in Auschwitz was dat as iemand ontsnap, dan word daar tien ander gevangenes willekeurig uitgekies om na die tyd doodgemaak te word. Toe Kolbe egter hoor dat een van die mense wat gekies is om doodgemaak te word self 'n vrou en kinders gehad het, het hy dadelik aangebied om daardie man se plek in die groep van tien ter dood veroordeeldes in te neem. Na twee weke se skrikwekkende marteling is Kolbe toe self ook tragies dood.

Kolbe se onselfsugtige daad van naasteliefde herinner ons aan Jesus se woorde dat daar geen groter liefde is as wanneer iemand sy lewe vir sy vriende aflê nie!
Wat offer ons ooit vir mekaar op?
Wie se lewens is ryker omdat hulle ons ken, of omdat hulle iewers met ons paaie gekruis het?
Moontlik is ons geloof heeltemal te goedkoop! Dalk glo ons veels te maklik omdat dit ons niks kos in terme van opoffering of selfs verloëning nie.

No comments: