Tuesday, May 5, 2009

MASKERS

Ons is 'n klomp maskerdraende mense op hierdie aarde. Wanneer jy iemand ontmoed weet jy nooit watter masker so 'n persoon op het nie. Geen persoon wys maklik wie en wat hy is nie, want ons is mos skaam om ons ware kleure ter wys. Ons wil ook nie net agter een masker skuil nie, o, nee ons wil 'n paar maskers hê sodat ons dit na willekeur kan opsit om agter weg te kruip.


Een van die maskers waar agter die meeste mense in die dag waarin ons lewe wegkruip, is daardie Christenmasker. Ek het al die gevoel dat om 'n Christen te wees is deesdae 'n modegier. Almal het al daardie buzz woorde aangeleer wat sal maak dat andere kan dink jy is 'n Christen. Jy is 'n Christen, maar net voor ander mense. Vannaand wanneer jy jou huis se deur agter jou toetrek, dan is jou optrede teenoor jou maat en jou kinders baie ver verwyderd daarvan. Jou woordgebruik is nie die van 'n Christen nie, nee dit is baie nader aan die van 'n heiden.

Jy voel jou horinkies lig wanneer ek praat van 'n heiden want dit is mos baie erg om dalk as een geklassifiseer te word! As jou optrede in die teenwoordigheid van ander mense nie dieselfde is as wanneer jy alleen met jou familie is nie, dan is daar mos iets verkeerd met jou. Dan dra jy mos 'n masker in die openbaar....! Dan wys jy mos iemand anders tussen mense, as wie jy regtig is. Daar by die Kerk tel jy jou woorde en jy is baie noulettend op wat jy sê, maar boeta as jy na kerk by die huis instap en die die reuk van verkoolde hoender tref jou as jy die deur oopmaak, dan kan jy darem maar in tale praat wat net die matrose kan verstaan. Dan is die Predikant wat so lank gepreek het onder skoot, en die ou wat die voorsang gelei het, die verkeer en ag, sommer als is dan verkeerd. Jy besluit daar en dan om ook nie weer op 'n Sondag kerktoe te gaan nie. Met so 'n lang onderlip en trane wat in jou oë opdam is jy op daardie oomblik die ongelukkigste mens op aarde. Jy wou dan vir jou gesin die wonderlikste bord kos voorgesit het en nou is dit 'n totale fiasko.

Nadat jy die Sondagmiddag slapie agter die rug het, voel jy baie beter. Maandag oggend wanneer jy uit die huis uitstap om te gaan werk is daardie Christenmaskertjie terug , en vertel jy van die wonderlike diens wat jy Sondag bygewoon het.

Party mense skuil weer agter ander maskers, trouens hulle het sommer so 'n ry maskers wat daar hang. 'n Masker van vriendelikheid, behulpsaamheid, verdraagsaamheid, toegeneentheid, fluksheid, hierdie maskers word net in die openbaar opgesit, maar wanneer so 'n persoon in sy eie privaatheid saam met sy gesin is dan is dit net die teenoorgestelde want dan wys die ware kleure wanneer dit nie meer nodig is om een of meer van daardie maskers te dra nie.

Baie keer dink ons as ons net ons verkeerde dade van die oë van mense af kan weghou, sodat hulle nie daarvan weet nie, dan is dit in die haak. Ons vergeet egter dat wat ons ookal doen, of dit nou helder oordag of in die middel van die nag is, agter geslote deur of onder die kombers, die Here weet presies wat ons doen en waarmee ons besig is. Ons kan niks vir Hom verberg nie. Ons is 'n ope boek voor Hom.

Kom ons haal daardie maskers af en gooi hulle stukkend sodat die ware ons ten alle tye sigbaar is. Daardie karaktertrekke wat nie volgens God se wil is nie, kom ons vertrou Hom en werk daaraan sodat dit onder Sy wil kan kom. Solank as wat ons dit agter 'n masker wegsteek, sal ons dit nooit voor die Here bely nie, nee dit sal altyd daardie troetel sondetjie wees en bly wat ons dalk eendag die ewige lewe saam met Christus sal laat mis.

4 comments:

Nimsi se Blog said...

So waar Oom Pertus!
Hoop jy voel beter?
Nimsi

Oom Petrus said...

Hallo Nimsi,
Baie dankie vir jou besoekie. Dit voel regtig bietjie beter danksy gebede.

Anonymous said...

Dag Oom Petrus
my ma het opi aner tani se blog glees oom is sick ex so jmr om te hoor het oom dadlik opi gebedsketing gesit hoop oom is gou wee reg.\
sam

Oom Petrus said...

Hallo Sam,
Baie dankie dat jy ingeloer het. Dankie dat jy my op die gebedsketting gesit het, dit waardeer ewk verskriklik. Met al die gebede wat vir my opgaan, glo ek sal ek binnekort weer volkome herstel het.
Groete vir jou