Wednesday, May 20, 2009

WAARHEID

Skielik is daar ‘n byt in die lug as jy vroegoggend uit die warm stort klim. Jy voel die koudheid hier agter teen jou rugstring afsak. Daardie lekker growwe handdoek gaan vinnig oor jou lyf om te keer dat jy regtig begin koudkry. Jy vat die handdoek so aan sy twee punte en maak vinnige saagbewegings oor jou rug om die koudwordende water af te droog en dan spring jy vinnig in jou klere. Nou voel jy gemaklik en knus en kan jy met jou daaglikse roetine begin.
As jy nou ‘n keuse het wat sal jou eerste prioriteit wees van hier af? Sal jy dadelik met jou take begin of sal jy ‘n paar minute eenkant sit om jou dag reg te begin. Met reg, word bedoel dat jy gaan stil word aan die Heer se voet om Sy woord te lees, Hom te aanbid en te hoor wat Hy vir jou wil sê.
Is dit dalk vir jou ‘n vreemde gevoel dat jy jou dag reg moet begin? Het jy al ooit jou dag reg begin? Het jy Hom al leer ken? Is die Here vir jou net ‘n God waarvan jy weet, wat daar vêr iewers in die hemel is. As jy opkyk kan jy nie sien waar God kan wees nie, al wat jy sien is blou lug met wolkies. Is God iemand waarvoor jy bang is? Krimp jy ineen as iemand iets van Hom voor jou sê.? Staan jy totaal apaties teenoor die Here en dink jy dit is net ‘n ”pie in the sky” en dat niks wat jy van Hom gehoor het ooit die waarheid kan wees nie.
Nog nooit nie. Die Here is so werklik soos brood en botter. Hy is elke dag met ons, ons hoef nie dagreise vêr na ‘n plek te gaan om God te vind nie. Ons kan met hom gesels deur net stil te word voor Hom, Sy arm is nie te kort om te help nie en Sy oor is ook nie te swaar om te hoor nie. Al kyk ons op in die lug om te sien waar God is en ons sien net blou lug en wolkies, wees verseker Hy is daar. Die Woord van God sê Hy het gemaak die aarde die voetbank vir sy voete. Hy kan met sy voete op die aarde rus, dink jy regtig ons sal Hom kan sien as ons in die lug opkyk. Ons sonnestelsel is maar een van vele, en daar word daagliks nog meer sonnestelsels ontdek deur die geleerdes wat deur hulle allemintage teleskope kyk. God het dit alles gemaak, en die mens sal nooit in sy hele bestaan die almag van God uitgepluis kry nie,
O Heer, my God! As ek met eerbied wonder En na die werke van u hande staar…….U mag in die heelal geopenbaar. Hoe groot is U! Hoe groot is U!
Vader ons sal nooit U almag kan verstaan nie, dit is baie groter as wat die menslike verstand ooit kan dink. Baie dankie Vader dat ons nie nodig het om te verstaan nie, maar ons moet net glo soos ‘n kindjie. Dankie dat U ook in ons harte kan woon, vir die menslike verstand klink dit onmoontlik maar dit is tog waar, want U het ons geskape, Amen

No comments: