Wednesday, May 6, 2009

STOF TOT DANKBAARHEID

Is daar in alles stof tot dankbaarheid? Ons dink nie altyd so nie, trouens ons soek eintlik in alles 'n rede om te kla. Ons kan baie gou murmureer net soos die Israeliete tydens hulle uittog uit Egipte. Die arme Moses het ook nie geweet waarvoor hy hom inlaat toe God hom daar by die braambos geroep het om die volk uit Egipte uit te lei nie. Keer op keer was hulle opstandig omdat dinge nie volgens hulle smaak verloop het nie. As hulle dink aan al die jare wat hulle as slawe van die Egiptenare gewerk en gesmag het om bevry te word, dan vervaag dit wanneer hulle 'n bietjie swaarkry en dinge nie heeltemal uitwerk nie. Wanneer hulle teen die rooisee tot stilstand kom en sien hoe die Egiptenaars op hulle afstorm, dan bewe hulle en dink as ons maar liewers daar gebly het, sou die dood ons nie nou in die gesig gestaar het nie. As die vleis opraak dan is daar groot ongelukkigheid by die volk. As die smaak van die water nie lekker is nie,dan kerm hulle. Telkemale het God voorsien in hulle behoeftes, met die pad deur die see, kwartels en manna en die water wat uit die rots gekom het toe Moses in sy woede daarop geslaan het. As Moses te lank na hulle sin weggebly het, dan bou hulle 'n gouekalf om te aanbid.

Tree ons nie maar dieselfde op wanneer die Here ons roep om Sy kind te word nie. Aan die begin is ons vuur en vlam, maar sodra daar 'n haakplek kom dan gaan sit ons op 'n hoop en wonder of dit die moeite werd is om aan te gaan. As ons die pad van die Here begin loop dan dink ons dat ons nie sal geestelik struikel nie, en as ons struikel dan wil ons nie weer opstaan nie. Dan wil ons liewer teruggaan na ons ou lewe toe, want daar het al die dinge wat nou saakmaak net mooi niks beteken nie. Elke mens kon maar net aangaan soos hy wou. Nou, as ek struikel moet ek vergifnis vra, ek moet selfs vir my medemens om verskoning vra. Dit was voorheen nooit nodig nie, dit voel eintlik of ek verneder word om dit te doen en ek hou nie daarvan om verneder te word nie. Ek wil liewer net aangaan soos voorheen.
Dit is soms so moeilik om te onthou hoekom jy daardie eerste stap geneem het. Jy het 'n kykie gekry van hoe dit sal wees om in die beloofde land aan te kom. Jy was bereid om die prys te betaal om daardie pad te loop, maar langs die pad het jy suinig geword, jy wou sommer net eensklaps daar arriveer. Die Woord sê dat mens eers die prys moet bereken voordat jy die huis bou, as jy dit nie doen nie en jy kan dalk nie die huis voltooi nie, dan gaan die mense vir jou lag.
Kom ons sit skouer aan die wiel, ons help mekaar dat ons nie langs die pad gaan sit nie maar dat ons ons uitstrek na wat voor is en dat ons alles in die stryd sal gooi om die wedloop te voleindig.
Ja daar is stof tot dankbaarheid as ons struikel op ons weg na die ewigheid. Ons struikeling gee vir ons die ondervinding om iemand wat swakker as ons is te help om op te staan as hy struikel of as sy bene bietjie moeg word. Ons moet net vir geen oomblik twyfel nie, ons moet ons oë op Jesus gerig hou.

No comments: