Friday, May 29, 2009

DANKBAAR IS HY WAT HOM IN GOD VERBLY

Dankbaarheid kan 'n emosionele en 'n blywende toestand wees. "Daar is blydskap wat op gebeure reageer, wat tydelik en onstabiel is en daar is blydskap wat voortduur ten spyte van omstandighede, wat sterk en blywend is." Ek en jy moet egter kies waar ons blydskap wil beleef want dit dra in 'n groot mate by tot ons dankbaarheid.

Indien my blydskap net emosioneel van aard is, gaan my dankbaarheid ook net van korte duur wees terwyl ek daagliks in dankbaarheid moet leef. Ek en jy dink egter ook dat ons net dankbaar kan wees vir die groot dinge, maar wat van die klein goedjies soos bv: jou oë, die feit dat jy kan loop en speel, dat jy kan eet en kan ruik. Wanneer laas het jy jou dankbaarheid nie net aan jou maat en kinders bewys nie, maar ook aan jouself?

Verder moet jy ook onthou dat wanneer ons in ondankbaarheid leef dan gee dit ook op ons kinders af, dan moet ons nie kla wanneer hulle ondankbaar en sonder vreugde is nie.

Die lewe is eenvoudig net te kort om ondankbaar te lewe. Ons het spesiale gawes en vermoëns gekry waarmee ons God moet behaag, maar ons doen dit nie en kan daarom ook nie God eer en verbly soos wat Ef 4:4 dit noem nie.
(4) Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!
(5) Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby.

Dankbaarheid teenoor God kom ook wanneer ons Godelike gedagtes het wat oor die waarheid en eerbaarheid gaan.(Fil 4:8-9) Dit gaan dus om gedissiplineerd te wees en 'n gedissiplineerde lewe te lei tot vergenoegdheid toe en dit is nie 'n gedrag nie, maar 'n gesindheid. Ons moet ons nie oor môre kwel nie, want môre kwel hom oor sy eie dinge. Ons moet God se belofte neem, om eers Sy koningkryk te soek, want sodoende sal ons ontdek wat dit is wat God behaag. Dan verbly ons, ons in Hom.

Thursday, May 28, 2009

WAT KOS JOU GELOOF JOU

Is die naam Maximilian Kolbe aan jou bekend? Wel, hy was 'n Fransiskaanse priester wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog ook as 'n gevangene in Auschwitz beland het. Toe ontsnap iemand uit die selblok waar hy aangehou is.
Die reël in Auschwitz was dat as iemand ontsnap, dan word daar tien ander gevangenes willekeurig uitgekies om na die tyd doodgemaak te word. Toe Kolbe egter hoor dat een van die mense wat gekies is om doodgemaak te word self 'n vrou en kinders gehad het, het hy dadelik aangebied om daardie man se plek in die groep van tien ter dood veroordeeldes in te neem. Na twee weke se skrikwekkende marteling is Kolbe toe self ook tragies dood.

Kolbe se onselfsugtige daad van naasteliefde herinner ons aan Jesus se woorde dat daar geen groter liefde is as wanneer iemand sy lewe vir sy vriende aflê nie!
Wat offer ons ooit vir mekaar op?
Wie se lewens is ryker omdat hulle ons ken, of omdat hulle iewers met ons paaie gekruis het?
Moontlik is ons geloof heeltemal te goedkoop! Dalk glo ons veels te maklik omdat dit ons niks kos in terme van opoffering of selfs verloëning nie.

Wednesday, May 27, 2009

NO PAIN, NO GAIN

1Pet1:7 "Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word."

CS Lewis het al gevra waarom daar nie maar 'n ander manier kon wees waarop ons as gelowiges kon groei nie. Hoekom het ons die pyn nodig om te groei? Pyn is een of ander tyd deel van elkeen se lewe. Pyn laat jou ander vrae vra, dit laat jou anders met mense omgaan. Dit laat jou anders bid en soek na God. Pyn stroop jou van oppervlakkigheid en ligsinnigheid.

'n Kosbare aanhaling van Alexander Solzjenitsin: " It was only when I lay there on rotting prison straw that I sensed within me the first stirrings of good. Gradually it was disclosed to me that the line separating good and evil passes not through states, not between classes, not between political parties either - but through the human heart - and right through the human heart - and through all human hearts. I nourished my soul there and say without hesitation: Bless you prison, for having been in my life.

Die pyn in die tronk het hom gehelp om van die grootste ontdekkings van sy lewe te maak. Elke stuk pyn dra 'n geskenk saam. Dit is nie vanselfsprekend dat jy die geskenk gaan ontdek nie, maar dit is daar.

Dalk moet jy weer 'n slag terugkyk oor jou lewe en 'n lysie maak van die pynlike ervarings wat jy beleef het. Dink mooi. Wat het jy daaruit geleer en wat kan jy met jou saamneem die toekoms in? Net jy kan die vraag antwoord.

Elke stuk pyn dra 'n geskenk met dit saam - net jy kan dit ontdek en benut

Tuesday, May 26, 2009

DIE VYF VINGER GEBED

1. Die Duim: Dit is die vinger naaste aan jouself. Bid dus eerste vir die persone naaste aan jou. Hulle is die wat jy die maklikste kan onthou. Dit is my en jou plig om vir hulle te bid.

2. Die Wys vinger: Bid vir hulle wat onderrig, bevele gee en genees. Onderwysers, Dokters, Predikante word ook hierby ingesluit. Hulle het wysheid en ondersteuning nodig om ander in die regte rigting te stuur.

3. Die Middel vinger: Dit is die langste vinger. Dit herinner ons aan ons leiers. Bid dus hier vir die President en regering, die Besigheidsleiers en Plaaslike owerhede. Hierdie mense vorm die nasie en lei deur publieke opinie. Hulle het God se leiding nodig.

4. Die Ring vinger: Hierdie is ons swakste vinger van die hand. Dit moet ons herinner aan ons huwelike en gesinne en hulle wat swak en siek is. Ons kan nooit genoeg bid vir hulle nie.

5. Die Pinkie: Laastens kom die kleinste vinger. Dit is ook hoe ek myself in verhouding met God en andere moet plaas. Die Bybel sê "Die minste sal die grootstye onder julle wees." Jou pinkie moet jou herinner om vir jouself te bid. Wanneer jy eers vir die ander vier groepe gebid het, sal jou eie behoeftes in perspektief geplaas wees en daarom sal jy dan meer effektief vir jouself kan bid.

Monday, May 25, 2009

GOD GAAN NOOIT "OFFLINE" OF OP "VOICEMAIL" NIE

Om aan "internetloosheid' te ly, is baie erg, Vra maar vir mense wat daagliks via die internet kommunikeer en al vir 'n tydlank sonder die stukkie tegnologie moes klaarkom hoe dit voel. Hulle sal jou tien teen een met trane in hulle oë vertel hoe bly, opgewonde en 're-energized" hulle was toe hulle tyd van lyding verby is.

Om 'offline" te wees is maar een van baie dinge wat kommunikasiegapings en frustrasie kan veroorsaak. Wanneer dit gebeur kan mense voel asof hulle kontak met die werklikheid verloor het, asof hulle besigheid sal onder gaan, hulle verhoudings gaan eindig en asof hulle sal mkoet begin hok bou vir die nuwe posduif. Wanneer hulle 'van lyn af "is of wanneer hulle vir 'n tyd lank sonder hulle selfone, blackberries en iPhone's moet klaarkom. Vir mense wat hulle selfone of laptops verloor het, voel dit of hulle hele lewe in duie stort! Die meeste van ons dra ons kantoor, verhoudings, kontak met geliefdes en hele lewe in 'n sak om ons skopuer of aan ons belt saaam met ons! Om "connected te wees is vir mense wat so leef baie belangrik.

Om kontak met mense te verloor en om gediskonnekteerd en offline te wees is 'n ramp, veral as dit met jou gebeur en al die data, nommers en info (wat ons lewe uitmaak) is skielik weg. Was jy al in 'n situasie waarin daar niemand was wat jy kon kontak om selfs net daaroor te praat nie? Of in 'n krisis waarin niemand jou kon help nie? Indien jy nog nie daar was nie, was jy nog nie gedisonnekteerd nie. Ons almal het al tot 'n mate beleef dat ons van ons familie of vriende af weggedryf het. Baie van ons het ook al gevoel of die Here te ver is en gewonder of Sy arm nie dalk tog te kort is om te help en Sy oor te doof is om te hoor nie(Jes 59:1) Dankie tog dat dit nooit vir ons nodig sal wees om uit te roep, "My God, my God, waarom het U my verlaat"(Mark 15:34), soos wat Jesus aan die kruis gedoen het nie. Ons kan met sekerheid weet God sal ons nooit verlaat nie. God gaan nêrens heen nie.

God gaan nooit "offline" nie en Hy "disconnect" nooit. God is altyd in kontak met ons. Ons moet egter met HOM as "service provider" gekonnekteerd wees en sorg dat ons daagliks "airtime" met Hom het en "gerecharge" word deur Hom!

Ds. Dawie van Schoor Jeugleraar

Friday, May 22, 2009

DIE VOLGENDE STAP

Jy het daardie stap geneem en voor die Here gebuig en al jou sondes bely. Van hulle het jy in 'n pakkie voor die Heer neergesit en ander het jy weer een-een bely soos die Heilige Gees jou herinner het. Nou is jy 'n nuwe skepsel in die Here, kyk die ou dinge het verby gegaan en alles het weer nuut geword.
Jou lewe gaan aan soos voorheen en die dag van jou bekering is besig om so effens in die vergetelheid te raak. Jy weet jy het jou sonde bely en jy probeer jou bes om nie sonde te doen nie. As jy die dag iets verkeerds gedoen het dan bely jy dit daardie selfde aand. Stadig begin jy wonder of dit al is wat daar in die geestelike lewe vir jou is. Jy kry tog die gevoel dat jy besig is om iets te mis, maar jy weet nie mooi hoekom nie. Dit gebeur al hoe meer keer dat jy iets verkeerd sê of doen en dit pla jou. Jy is besig om 'n val-en-opstaan lewe te ly. Eendag is jy "on top of the world" en die volgende dag is jy weer so diep in die gramadoelas as wat kan kom. As jy gefouteer het is dit al moeiliker om dit reg te maak. Jy kry die gevoel godsdiens werk nie vir jou uit in jou lewe nie en jy begin wonder of dit als die moeite werd is.
Ons word gewaarsku
Lukas 11:24 Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het.
Lukas 11:25 En hy kom en vind dit uitgevee en versierd.
Lukas 11:26 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.

As ons nie gevul is met die Heilige Gees nie, dan is ons in werklikheid leeg, loop ons die gevaar dat die bo-staande met ons kan gebeur. Ons sonde is pragtig uitgewas deur Jesus se bloed en ons is nou nuut maar leeg omdat ons nog nie Gees vervuld is nie. Heiligmaking is 'n tweede genadewerk wat in ons lewens moet plaasvind. Die eerste is sonde vergifnis en die tweede is Gees vervulling.

As gevolg van die sondeval in die paradys het ons 'n ingebore geneigdheid tot sonde doen. Dit is as gevolg van daardie geneigdheid wat die Woord sê ons is in sonde ontvang en gebore en tot ons nie met daardie geneigdheid tot sonde doen gedeel het nie, sal ons aanhou om sonde te doen. Daardie val en opstaan geestelike lewe wat dit vir ons soms so moeilik maak. Ek wil reg lewe maar voordat ek my kon kry ,het ek alweer...........!

Kniel voor die Here en bely aan Hom daardie geneigdheid tot sonde doen, of die sondesmet in jou lewe waarmee jy gebore is. Jy het dit of jy dit wil glo of nie.
Vra Hom om jou skoon te was in Sy bloed, en vra Hom om jou te vul met Sy Heilige Gees, tot oorlopens toe vol sodat daar nie plek vir iets anders in jou geestelike lewe is nie. In gebed gee ook aan Hom alles, alles wat vir jou tot struikeling is en kan wees. Jou man,jou vrou, jou kinders by die naam, jou motor, jou werk, die kollega by die werk wat vir jou 'n steen des aanstoots is.Gee hierdie keer jou alles.
Gee ook vir Hom daardie skuilhoekie in jou hart wat jy tot nou toe vir jouself gehou het.
As jy by hierdie stap in jou lewe kom, dan moet jy die keuse maak om alles op die altaar te plaas. Jy moet bereid wees om al die verkeerde goed af te lê en te laat staan. Daar mag geen klip in jou lewe oorbly wat nie omgedraai is nie.
As jy nie hierdie tweede stap in jou lewe neem nie, sal jy aanhou met daardie opstaan en val lewe en naderhand besluit dat dit nie vir jou is nie en teruggaan na jou ou lewe toe en dit sal erger wees.(Lees weer Lukas 11:26)
Van hierdie punt af moet jy daagliks vernuwe, om godsdiens te speel is dan iets van die verlede.
Liewe Vader, Ek bid vir al my boeties en sussies wat dit ernstig met U bedoel en ek vra dat U hulle sal help om die regte besluit te neem en ten uitvoer te bring. Here help hulle asseblief om korte mette te maak met daardie sondesmet waarmee ons almal gebore is. As hulle hulle voete op die pad van heiligmaking sit Here, help hulle asseblief om daarop voort te gaan. Here dit is nie so maklik om alles op die altaar te plaas nie, maar help hulle om dit te kan doen. Dankie dat ek dit kan vra in die wonderlike naam van ons Verlosser, Jesus Christus,Amen

Thursday, May 21, 2009

HEMELVAART

Reeds 'n klompie jare gelede is hierdie baie belangrike dag vir die Christen van die kalender verwyder. Deur dit af te haal het die wêreld gedink dat hy 'n streep daardeur getrek het, deur dit nie langer 'n vakansiedag te maak nie, sal dit wel metertyd in die vergetelheid raak.

Haleluja, vandag is 'n feesdag vir die kind van God wanneer ons die Hemelvaart van ons Here Jesus Christus herdenk. Jesus is gebore, gekruisig en het opgestaan uit die dode. Dit is noodwendig dat Hy moet terugkeer na waar Hy vandaan kom, terug na Sy hemelse woonplek, waar Hy sit aan die regterkant van die Vader. Jesus moes die aarde verlaat en opgeneem word in die hemel sodat Hy Sy Heilige Gees oor die aarde kon uitstort om by en in ons te kan woon.
Lukas 24:49-53
"My Vader het ook nog 'n baie Groot Geskenk vir julle. Ek gaan hierdie Geskenk binnekort na julle toe stuur. Wag nog net so 'n klein rukkie hier in Jerusalem. Een van die dae gaan julle met baie groot krag direk uit die hemel toegerus word.
'n Rukkie later het Jesus Sy apostels na Betanië toe gevat. Daar het Hy Sy hande oor hulle uitgestrek en God se seën oor hulle afgebid. Terwyl Hy nog besig was om hulle te seën, het hy na die hemel toe vertrek.(is Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem)Die apostels het op hulle knieë neergeval en Jesus aanbid terwyl Hy van hulle af weggaan. Daarna het hulle na Jerusalem toe teruggestap. Hulle was baie opgewonde oor alles wat hulle gesien en beleef het.
In Jerusalem het hulle elke dag na die tempel toe gegtaan om God te dien en te eer.

Terwyl Sy dissipels nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee manne in wit klere aan hulle verskyn en vir hulle gesê:"Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het. Wat 'n wonderlike vooruitsig het ons nie, om die hoop in ons harte te koester, dat ons Jesus so sal sien terugkom na die aarde om Sy bruid te kom haal!

Is jy gereed om die Bruidegom te ontmoed? Is daar genoeg olie in jou lampie? Jy is die enigste een wat daarvoor kan sorg.
Manne jy is die koning en priester van jou huis. Het jy al jou huisgesin voorberei om gereed te wees om die Bruidegom te ontmoed?
Dit is jou opdrag as man. Voer dit uit!
Die opdrag aan Sy dissipels en dus ook aan ons, wat Sy kinders is, is baie duidelik dat ons aan andere moet vertel van Jesus

Wednesday, May 20, 2009

WAARHEID

Skielik is daar ‘n byt in die lug as jy vroegoggend uit die warm stort klim. Jy voel die koudheid hier agter teen jou rugstring afsak. Daardie lekker growwe handdoek gaan vinnig oor jou lyf om te keer dat jy regtig begin koudkry. Jy vat die handdoek so aan sy twee punte en maak vinnige saagbewegings oor jou rug om die koudwordende water af te droog en dan spring jy vinnig in jou klere. Nou voel jy gemaklik en knus en kan jy met jou daaglikse roetine begin.
As jy nou ‘n keuse het wat sal jou eerste prioriteit wees van hier af? Sal jy dadelik met jou take begin of sal jy ‘n paar minute eenkant sit om jou dag reg te begin. Met reg, word bedoel dat jy gaan stil word aan die Heer se voet om Sy woord te lees, Hom te aanbid en te hoor wat Hy vir jou wil sê.
Is dit dalk vir jou ‘n vreemde gevoel dat jy jou dag reg moet begin? Het jy al ooit jou dag reg begin? Het jy Hom al leer ken? Is die Here vir jou net ‘n God waarvan jy weet, wat daar vêr iewers in die hemel is. As jy opkyk kan jy nie sien waar God kan wees nie, al wat jy sien is blou lug met wolkies. Is God iemand waarvoor jy bang is? Krimp jy ineen as iemand iets van Hom voor jou sê.? Staan jy totaal apaties teenoor die Here en dink jy dit is net ‘n ”pie in the sky” en dat niks wat jy van Hom gehoor het ooit die waarheid kan wees nie.
Nog nooit nie. Die Here is so werklik soos brood en botter. Hy is elke dag met ons, ons hoef nie dagreise vêr na ‘n plek te gaan om God te vind nie. Ons kan met hom gesels deur net stil te word voor Hom, Sy arm is nie te kort om te help nie en Sy oor is ook nie te swaar om te hoor nie. Al kyk ons op in die lug om te sien waar God is en ons sien net blou lug en wolkies, wees verseker Hy is daar. Die Woord van God sê Hy het gemaak die aarde die voetbank vir sy voete. Hy kan met sy voete op die aarde rus, dink jy regtig ons sal Hom kan sien as ons in die lug opkyk. Ons sonnestelsel is maar een van vele, en daar word daagliks nog meer sonnestelsels ontdek deur die geleerdes wat deur hulle allemintage teleskope kyk. God het dit alles gemaak, en die mens sal nooit in sy hele bestaan die almag van God uitgepluis kry nie,
O Heer, my God! As ek met eerbied wonder En na die werke van u hande staar…….U mag in die heelal geopenbaar. Hoe groot is U! Hoe groot is U!
Vader ons sal nooit U almag kan verstaan nie, dit is baie groter as wat die menslike verstand ooit kan dink. Baie dankie Vader dat ons nie nodig het om te verstaan nie, maar ons moet net glo soos ‘n kindjie. Dankie dat U ook in ons harte kan woon, vir die menslike verstand klink dit onmoontlik maar dit is tog waar, want U het ons geskape, Amen

Tuesday, May 19, 2009

BELOFTES

Daar is ongelooflik baie beloftes in die Woord van die Here, hierdie beloftes is gegee aan 'n spesifieke persoon onder spesifieke omstandighede. Wanneer ons dan deur die woord lees dan sien ons die woorde wat die beloftes omskryf en ons verstaan dat dit aan iemand gegee is. Baie keer is hierdie beloftes op ons van toepassing maar ons herken dit nie as sulks nie. Die rede hiervoor ia dat in die meeste gevalle wanneer ons in die Bybel lees verstaan ons nie wat ons lees nie. Ons volg 'n verhaal of storie in die Bybel maar as dit kom by gedeeltes wat nie in verhaal vorm is nie, dan lees ons maar net en in die meeste gevalle maak dit nie eintlik vir ons sin nie.

Ons wil 'n hele hoofstuk lees, want ons voel ons moet dit doen, maar iewers raak ons verdwaald tussen die woorde en maak alles nie vir ons sin nie. Dit is tog so verkeerd. Ons moet eintlik net die maksimum van so 5 versies lees en dit dan behoorlik deurdink ipv om die hele hoofstuk te lees wat op die einde totaal by ons verby gaan. Vir ons self vrae daar rondom vra, soos bv. Wat staan hier geskryf? (As jy nie verstaan het nie, lees dit weer deur.)Wat beteken dit wat hier geskryf staan?Hoe is die paar verse op my van toepassing?
As ons daagliks so ons stukkie lees en dit regtig oordink ipv 'n elle lange onverstaanbare stuk, sal ons 'n groter begrip van die Woord kry.
Dan sal ons ook baie van daardie beloftes ons eie kan maak! Wat 'n wonderlike ding is 'n belofte van die Here. Ons lewe daardie belofte en ons bestudeer dit en sien uit na die dag wat die Here daardie belofte gaan waarmaak. Wanneer Hy dit waarmaak dan is dit tyd om hom te loof en te prys en aan almal te vertel van die wonder wat God in jou lewe gedoen het.Dan besef mens ook dat die tyd van wonderwerke nog nie verby is nie, nee dan weet ons ons staan te midde van wonderwerke.

Monday, May 18, 2009

DIE SPLINTER EN DIE BALK

Haai hierdie ou mensdom is maar 'n snaakse klomp. Sit altyd soos 'n valk op 'n doringdraad en kyk net wie se oog hy kan uitpik. Kry ook nie klaar met net een nie, maar wil altyd 'n hoop oge voor hom hê. Ek praat nou eintlik van die foutvinderiges, wat altyd die splinter in die ander ou se oog soek. Niks is ooit reg en na jou smaak nie, o nee, jy moet altyd 'n bekvol te sê hê oor ander.
"Kyk wat het ou Willem nou weer gekoop, dit is nou pure geld mors." Jy hou hom dop terwyl hy die vistenk agter van sy bakkie aflaai." Hy kon darem iets baie beters met daardie geld gedoen het." Sê jy terwyl jy daardie 72 duim televisiestel agter uit jou 4x4 laai.

"Kyk wie het ou Ans nou weer helder oordag onthaal, sal darem like om te weet wat gaan agter daardie toedeure aan." sê jy aan jou linkerkantse buurman waar julle op jou voorstoep sit en tee drink terwyl jou man by die werk is. Julle hou die lang maer blondeman dop terwyl hy vir Ans styf teen hom vasdruk by die voordeur en dan vinnig die trappe afstap na die motor wat al die afgelope drie ure daar geparkeer staan.
Matt 7:1-3
"Moenie vitterig wees nie. Hou op om mense links en regs te oordeel sonder dat julle vooraf eers vasgestel het wat die regte feite is. As julle dit doen, gaan God presies dieselfde met julle doen.
Dit is maklik om 'n klein foutjie in iemand se lewe raak te sien terwyl jy blind is vir die groot klomp sondes in jou lewe. En dan het julle partykeer nog die vermetelheid om ander mense te kritiseer oor hulle paar foutjies terwyl julle niks aan julle eie blindheid doen nie. Dit is die toppunt van skynheiligheid! Daan maak eers al die foute in julle eie lewe reg. Daarna kan julle mense help om te doen wat God hulle vra.
"Ek wil egter waarsku: moenie slegte mense probeer help nie. Hulle het geen respek vir God nie. Hulle verstaan glad nie wie Hy is en watter voorreg dit is om Hom te dien nie. Moenie julle tyd mors om met hulle oor God te praat nie. Hulle sal Sy goedheid soos 'n trop varke onder hulle voete vertrap.
Boonop gaan hulle julle ook net slegsê.

Uit: Die Boodskap van Jan van der Watt en Stefan Joubert

Friday, May 15, 2009

NET VIR ONS GELEEN

Dit is Donderdag oggend, ons laaste dag hier in Ballito. Moreoggend vroeg vat ons die pad Swaziland toe waar ons die naweek vir ons enigste seun en sy vroutjie gaan kuier. Sy is nou verwagtend en hier iewers in Julie sal ons ouma en oupa word. Wat 'n wonderlike vooruitsig om te hê! Ek het altyd gedink hulle sal maar van oorlede oupa praat :0)) maar nou lyk die moontlikheid om oupa te word baie beter. Dink net daaraan hoe die Here daardie ou babatjie in haar magie geweef het, ragfyn aartjies en senuweetjies, orgaantjies, hartjie, longetjies en alles is mooi bymekaar ingeskakel. Die een orgaan is so interafhanklik van die ander, en die Here het presies geweet hoe alles inmekaar skakel. Dit is 'n wonderwerk op sy eis, en daardie dag wat sy gebore word. dan blaas God sy asem in haar longetjies en dan begin alles saamwerk om haar aan die lewe te hou. 'n Godelike wonderwerk!

Die kleur van die water is vanoggend so 'n donker bottelgroen en nie blou soos wat algemeen gesê word nie. Maar of dit nou blou of groen is, God het die water gemaak toe Hy land en see van mekaar geskei het. Ons binnelanders kan ons oe nie van die, altyd bewegende water afhou nie. Ons kan vir ure daarna staar, en die ontstuimigheid van die water bring gewoonlik kalmte in ons ontstuimige gemoed, hoe paradoksaal dit nou ookal mag klink. Dit moet sekerlik wees om dat ons ons so verwonder aan die almag van God wat dit gemaak het. Die brekende branders met hulle wit skuimkoppe. Die geluid wat die water maak wanneer die branders teen die rotse breek en die water so 'n streep in die lug opspat. As jy dieper in die oseaan inkyk dan sien jy daar vêr die wit skuimkoppies van die water, dit is nie branders wat daar breek nie, net die botoppe van die deinings wat so saggies omrol. Wat laat die water so altyd beweeg? Daar is sekerlik 'n wetenskaplike rede daarvoor maar ek weet nie wat dit is nie, vir my lyk dit of God die water met Sy hande roer of met Sy asem blaas dat daar altyd beweging is. Dit bring my weer opnuut onder die indruk van Sy almag.

Die see is 'n interessante plek en het nogal 'n rol gespeel in Jesus se wandel hier op aarde: Terwyl Jesus langs die see van Galilea gestap het, het Hy twee broers, Simon en Andreas gesien waar hulle besig is om vis te vang. Hy het hulle geroep en gesê: "Kom agter My aan en ek sal julle vissers van mense maak!" En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg. 'n Ent verder het Hy vir Jakobus en Johannes gekry besig om hulle nette te herstel, en Hy het hulle geroep. Hulle het dadelik die skuit verlaat en Hom gevolg. Op 'n ander geleentheid was Jesus saam met Sy dissipels in 'n bootjie op die see, 'n storm het losgebars terwyl Jesus rustig agter in die boot gelê en slaap het. Sy dissipels het gepaniek en Hom wakker gemaak. Hy het die wind bestraf en die see het kalm geword en hulle het veilig oorgevaar na die anderkant. Op 'n ander geleentheid het Jesus op die see gewandel terwyl Sy dissipels besig was om met 'n bootjie oor te roei, en toe Petrus die begeerte ontwikkel om ook op die water te loop, het Jesus vir hom gesê kom. Na 'n paar tree het Petrus sy oe van Jesus afgehaal en na die omstandighede rondom hom gekyk, en net daar het hy vertroue verloor bang geword en begin sink. Jesus het hom gou die hand gereik en hom uitgehaal en hulle is in die bootjie.
Ek filosofeer net vandag 'n bietjie en dink aan die grootheid van die God wat ons dien. "n Lewendige God wat alles wat ons sien geskape het en dit alles vir ons so mooi gemaak het. Aan wie alles behoort. Wat ons het is net vir ons geleen en daarna moet ons mooi kyk. Ons dink ons het geld, God het dit net vir ons geleen, ons moet mooi kyk hoe ons daarmee omgaan. Ons dink ons het kinders, ook hulle is net aan ons geleen met 'n verantwoordelikheid teenoor die Here dat ons hulle moet oppas en reg grootmaak.
Daardie ou babatjie in Madi se magie het nie gevra om daar te wees nie. Daardie geskenk van die Here af, bring 'n baie groot verantwoordelikheid op die kinders se skouers en ook ons as oumas en oupas dra daardie verantwoordelikheid. Hulle moet daardie ou babatjie, wat nou nog nie eers 'n naam het nie, liefhê en haar mooi versorg. Sy moet so grootgemaak word dat sy die Here ken en liefhê wanneer sy groot is.Daar rus ook 'n plig op almal om te sorg dat sy veilig voel tussen grootmense. Kinders mag nie gepla word nie, hulle moet 'n vry en gelukkige kinderlewe hê en nie klein grootmensies wees nie.
Ons moet mooi na hulle kyk, hulle is net vir ons geleen!

Thursday, May 14, 2009

DIE WEDLOOP

Ons kom almal een of ander tyd op daardie punt waar ons iemand om raad moet vra. Miskien vra ons nie regtig 'n antwoord nie, maar meer 'n gewillige oor om te luister, 'n klankbord! Iemand wat ons kan vertrou met ons privaatheid. Iemand wat ons kan bemoedig. Iemand wat ons kan vertroos. Iemand wat ons kan ondersteun. As ons regtig in 'n baie slegte situasie verkeer, dan soek ons dalk iemand wat vir ons bietjie hoop en vertroue op die toekoms kan gee. Wat is die lewe sonder die hoop dat daar 'n beter toekoms voor ons lê. Ons hoop moet positief wees want negatiewe hoop help ons nie veel nie.
As ons onder die waan verkeer dat ons medemens on sal kan help om deur hierdie wanhopigheid te breek om weer hoop te hê, dan sal ons maar bedroè daarvan afkom. Hulle kan ons miskien help om kortstondige hoop te ervaar, hoop wat binne 'n dag of twee weer opdroog, maar permanente ewigdurende hoop, daarmee kan hulle ons nie help nie.
Jy sien, ons is almal maar in dieselfde bootjie, ons sit almal met dieselfde probleem, ons probeer maar almal onder mekaar raad vra, ons wil graag almal bemoedig word, ons soek maar almal van tyd tot tyd ondersteuning en van tyd tot tyd gee ons almal aan mekaar hoop.

Wat nou van die hoop op 'n wonderlike ewige lewe? Daardie hoop wat ons in ons harte koester dat ons eendag deel van daardie elite groep gaan word wat ons reeds voouruit gegaan het. Hulle wat reeds hulle ereplekke in die stadion van die ewige lewe ingeneem het. In daardie stadion gaan ons almal se wedloop eindig. Ons is besig met 'n wedloop wat ons eers aan die end van ons lewens kan voltooi. Die jammerte is net dat almal wat op aarde lewe nie ook daardie wedloop sal hardloop nie. Daar is net 'n sekere groep wat dit gaan maak. Dit is maar soos om aan die Comrades wedloop deel te neem solank jy in die wedloop is , staan jy in 'n goeie kans om klaar te maak.
Heb 12:1 Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,
As jy egter langs die pad stop en gaan sit dan neem jy nie meer deel volgens die reels van die wedloop nie. Dan kan jy ook nie verwag om die wedloop klaar te maak nie. Daar is nog al die ander wat nie eers aan die Comrades deelneem nie? Hulle kan mos nie verwag om in aanmerking te kom vir een van die medaljes nie, hulle het nie eers ingeskryf en probeer om die wedloop te hardloop nie. Dit is soos dit gaan in die wedren van die ewige lewe ook, daar is baie wat nie inskryf nie, ma en pa skryf in, maar die kinders wil nie, of anders om kan die kinders inskryf en pa en ma wil nie. Die wat nie inskryf en begin deelneem nie kan nie op die rug ry van die wat wel ingeskryf het nie. Die een kan die wedloop vir die ander een hardloop nie.
Dink net hoe wonderlik sal dit wees wanneer ons die dag daardie stadion van die ewige lewe ingedraf kom en daar staan 'n menigte in 'n erewag om ons toe te juig, ja daar staan Oom Abraham, Oom Isak, Oom Jakob, Oom Paulus, Oom Johannes, Oom Noag en vele ander wat ons herken op ons laaste gedeelte tot by die wenpaal waar Jesus vir ons wag.

2Ti 4:7 Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.

Wednesday, May 13, 2009

PSALM 123

Hierdie lied is geskryf vir die mense wat na Jerusalem gekom het om die Here te dien

Ek staan sos 'n bedelaar voor die Here wat oor alles regeer.
Ons kyk op na die Here, ons God, soos werkers na hulle base.
Ons sal ons hande in afhanklikheid na die Here toe uitsteek en Hy sal vir ons goed wees.

Wees goed vir ons, Here, wees baie goed vir ons!
Ons het genoeg daarvan gehad om gespot te word.
Ons is moeg vir die arrogansie van mense wat dink hulle is beter as ander.
Mense wat te veel van hulleself dink, dink ook dat hulle op ander kan neersien.

Uit: Die Boodskap
Jan van der Watt
Stephan Jouber
t

Tuesday, May 12, 2009

HET JY AL BEVORDERING GEKRY?

Wat beteken dit om 'n Christen te wees?
Dat jy grootgeword het in 'n huis waar jou ouers so af en toe kerktoe gegaan het en vir jou uit die kinderbybel gelees het. Jou in die Sondagskool gesit het waar jy elke keer as jy daar kom 'n lessie gehoor het van een of ander voorval uit die Bybel. Jy moes ook vir elke keer 'n nuwe teksvers leer wat al die kinders in die klassie uit hulle koppe moes opsê. Julle het liedjies geleer gesing en eenkeer in 'n jaar 'n Sondagskoolpiekniek bygewoon.

Ons ouers het ons geleer rympies bid, ek kan nog so goed onthou die eerste gebedjie wat my ma my geleer het: "Liewe Jesus neig u oor, wil tog my gebedjie hoor. Hou deur hierdie lange nag oor U kindjie trou die wag, Amen." Die het ek getrou elke aand gebid voordat ek gaan slaap het. Soos ons groter word , kom ons naderhand by die Onse Vader uit en leer ons om dit te bid. Dit is presies waar ons vassteek, vandaar af bid ons net die Onse Vader en ons vorder niks verder nie. Alles wat ons dink ons moet sê of vra word in hierdie gebed ingesluit en daarom word dit ons standaard gebed waarmee ons aand vir aand ons dag afsluit wanneer ons in die aand in die bed klim. Ons deurloop naderhand 'n periode waar ons voorberei word om by een of ander kerk aan te sluit. Ons leer 'n klomp vrae en antwoorde uit 'n boekie uit, ons leer die spesifieke denominasie se geskiedenis en dan op 'n Saterdag word ons aan die gemeente voorgestel en op die Sondag word ons aangeneem en dan mag ons nagmaal gebruik. Nou is ek 'n Christen!

Waarheen van hier af? Die pad wat ek van hierdie punt af geloop het is seker nie die pad wat die meeste mense loop nie. Of dalk is dit, ek weet nie! Ek het 'n paar keer na die aanneming die dienste bygewoon, maar dit het al minder en minder geword want ek het begin werk en watter dag is die beste om daardie eerste motor skoon te maak? Sondag natuurlik. Na die vorige aand se gefuif, slaap jy lekker laat op Sondagoggend en dan spandeer jy die grootste gedeelte van die dag aan daardie motor, poets hom so blink soos 'n bottel. So van 18:00 uur af is jy oppad na die middestad toe want so 'n bietjie later is dit tyd dat die manne met die vinnige motors mekaar uitdaag en dan verander Voortrekkerstraat in 'n renbaan.
Eenmaal per jaar op Oujaarsdagnag dan het ek my Christenskap gaan hernu deur 'n kerkdiens by te woon en dit was ook die som totaal van my beoefening daarvan.
Ja ek was vir baie jare 'n Christen wat in die aand die Onse Vader opgesê het, Psalm 23 uit die Bybel gelees het en een maal per jaar kerktoe gegaan het.

Sedertdien het alles in my lewe verander. Ek het 'n ware ontmoeting met die Here gehad, ek gaan indien moontlik elke Sondagoggend en Sondagaand kerktoe, ek lees my Bybel en hou elke oggend stiltetyd voordat ek werktoe gaan. Ek versuim nie om die ander onderlinge byeenkomste wat aangebied word, by te woon nie. Ek bid nog soms die Onse Vader, nie omdat ek daar vasgehaak het nie maar omdat ek vandag presies weet wat ek sê wanneer ek die gebed bid. Psalm 23 bly vir my 'n pragtige gedeelte en ek lees dit ook soms vir stigting, maar dit is nie meer my somtotaal van my Bybellees nie. Ek leer die Woord van die Here ken en ek geniet dit om daarin te lees, want deur Sy woord praat die Here met my en deur wonderlike tye van gebed praat ek met die Here. Ek gesels met Hom soos met 'n vriend, ek vertel Hom alles wat my pla, alles wat ek wil doen. Ek maak al my behoeftes aan Hom bekend, alhoewel die Here reeds weet wat mens se behoeftes is wil hy steeds hê jy moet dit vir Hom vertel.
Ek het die sekerheid in my hart, as die dood my vannag kom haal, ek saam met Jesus in die hemel sal wees. Ek het daardie sekerheid gekry die dag toe ek my sondes teenoor God bely het en klaargekry het daarmee.

Ja, ek is steed 'n Christen, maar ek het bevordering gekry en is nou ook 'n kind van God.

Jy kan ook daardie bevordering kry, dit is binne jou bereik, maar die keuse is joune en joune alleen.

Monday, May 11, 2009

EEN VAN TWEE EINDBESTEMMINGS

Hoe laag op jou lysie van die tien belangrikste goed wat jy daagliks doen lê jou tyd met die Here? Hou jy ooit stiltetyd? Gaan jy ooit kerktoe? Wanneer almal by die werk tydens etenstyd of teetyd dalk iets sê oor wat hulle in hulle stiltetyd gelees het, dan sit jy eintlik met jou mond vol tande en voel jy skuldig en verergd omdat hulle alweer "kerk" praat. Het hulle dan niks beters om oor te praat nie, nou kom hulle hier op 'n Maandagoggend en praat oor goed waarmee ek nie op hoogte is nie. Hulle praat nou oor gister se dienste, wat alles daar gebeur het en wat die Prdiker gesê het wat so 'n indruk op hulle gemaak het. Jy kan sien dat daar 'n opgewondenheid is wanneer mense oor Geestelike sake gesels maar jyself het nie daardie gevoel en lus om opgewonde te raak oor kerksake en die Bybel nie.
Waar lê die fout, by my of by hulle? Ek gaan mos so af en toe kerktoe, wanneer ek die behoefte het en ek lees mos my Bybel so af en toe wanneer ek iets soek om my te troos, gewoonlik is Psalm 23 'n goeie troospsalm wat ek eintlik uit my kop ken van kleintyd af. Ek raak net partykeer deurmekaar en ruil versies met mekaar om, maar ek ken hom. Ek bid die Onse Vader wanneer ek voel ek wil bid, en as ek dit gedoen het dan voel ek sommer beter. My ma het my mos geleer om so te bid toe ek nog in die huis was en as ek reg onthou dan staan dit in die Bybel dat ons so moet bid! So wat is daar nou eintlik meer om te doen? En buitendien godsdiens en hoe ek voel is 'n privaat saak wat eintlik niks met met niemand uit te waai het nie. So die alewige gesels oor die sake by die werk is pure dwepery, sê ek jou. Daar moet 'n verbod op geplaas word dat daar nie oor godsdiens of politiek by die werk gesels mag word nie, want altwee onderwerpe is privaat en hoe ek daaroor voel het niks met iemand anders uit te waai nie.
Kan ek jou nou vanoggend nog verder krap? Wat van tafelgebed, bid jy voordat jy eet, as jy alleen is of by die huis of val julle as huisgesin maar net in en eet sonder om te bid. Wat van in 'n restaurant, bid julle voordat julle eet. Nee, ons bid gereeld voordat ons eet as ons as gesin saam is, andesins bid ons ook maar nie, maar in 'n restaurant bid, dit is in die openbaar, daar moet elkeen maar vir homself bid.

As dit is hoe jy voel, dan val die Here nie eers onder die tien belangrikste punte op jou prioritetslysie nie. Dan is Hy seker nie eers op 'n lys van die honderd belangrike goed wat jy in jou lewe wil doen nie. Waarvoor lewe jy dan, lewe jy net vir die lewe self, het jy geen begeerte om die Here te dien nie? Hoe kom jy deur die krisisse in jou lewe, of is jou lewe altyd sonder enige laagtepunte. Spring jy van die een hoogtepunt na die ander.
Dan lewe jy in 'n ander wêreld, 'n wêreld waar daar net voorspoed heers, waar jy elke dag meer geld in die hand het as wat jy wil hê met geen vooruitsigte dat dit kan opraak nie, waar daar nie siek kindertjies is nie, waar daar by die werk geen probleme opduik nie, al is dit ook nou in jou eie besigheid. Dan het jy nooit verskille met ander mense nie, jy voel nooit olik nie, jy weet altyd wat die regte ding is om te sê. Dan is jy totaal op jouself aangewese, jy het niks en niemand in jou lewe nodig nie
Ek wil net vir jou iets vra, en as jy die dag by die einde van jou lewe kom, wat dan? Wil jy graag sterwe soos jy gelewe het, sonder God? Wat 'n verskriklike dag sal dit nie wees nie.
Aan die einde van elkeen van ons aardse lewens is daar die ewige lewe, want ons het almal 'n onsterflike siel. Daar is net een van twee eindbestemmings - die ewige lewe saam met God of die ewige lewe in die verderf. Dit is die keuse wat jy op aarde al moet maak, jy kan die keuse nie in die dood maak nie, want dan is dit te laat.
Die Here waarsku jou om nie die wye weg te volg nie: Mat 7:13 Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Die meeste mense is op daardie wye weg, Fil 3:18 Want baie—van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê—wandel as vyande van die kruis van Christus. Fil 3:19 Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.
Vir diegene wat die Here hier op aarde dien sê die Woord in Fil 3:20 Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,
Php 3:21 wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.

Ons het almal keuses om te maak oor hierdie saak. Ons kan nie afsydig hieroor staan nie. Ons kan nie na die dood ons keuse verander nie ons moet kies terwyl ons nog in die lewe is. Dit is of die ewige verderf of die sonder God of die ewige lewe met God.

Watter eindbestemming kies jy?

Sunday, May 10, 2009

MOEDER

Ken jy al die name wat 'n kind die vrou noem wat hom of haar in die lewe gebring of alternatiewelik groot gemaak het? Hoe klink: Moeder, Moekie, Moeka, Mammie, Moedertjie, Ma, Moeksie, Mamma en dan daardie gewilde een wat elke Mammie se hare laat regop staan wanneer hulle, hul kind vra om iets te doen: :"JA MA."

Kinders kan nie verstaan dat ma's altyd weet wanneer hulle besig is om droog te maak nie, al is dit nou ook agter 'n toe kamerdeur. Moeders is geseen met 'n sesde sintuig omdat daar 'n ingesteldheid by hulle is om ten alle tye te weet hoe dit met hulle kinders gaan.
Moeders is goeters wat verskriklik mooi opgepas en verskriklik goed behandel moet word deur hulle kinders.
Exodus 21:15,17 Is baie baie, baie duidelik: Hy wat sy moeder slaan of vloek moet sekerlik gedood word.
Deut 27:16 Vervloek is hy wat sy moeder verag.
Spreuke 1:8 ........vewerp die onderwysing van jou moeder nie.
Daar is 'n liefdesband tussen moeder en kind wat strek oor oseane heen en wat nooit verbreek kan word nie. Ten minste nie van die moeder se kant af nie. In 'n moeder se oe sal haar kinders ook nooit groot word nie, hulle bly altyd klein al is moeder tagtig en kind sestig jaar oud.
Moeders verdien die respek en liefde van hulle kinders. Deut 5:16 Eer jou moeder soos die Here jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die Here jou God aan jou gee.
Kan jy onthou wat jy by jou moeder geleer het? By haar het ek geleer om my eerste woordjie te sê, sy het my van Jesus geleer en ook om my eerste gebedjie te bid, om asseblief en dankie te sê, om andere mense en hulle eiendom te respekteer, om mededeelsaam te wees, om ons goed op te pas, om spaarsamig te wees.
My moeder het ons ook behoorlik gestraf wanneer nodig. Spreuke 29:15 Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.
My moeder het ons ook geleer van tuisgebakte brood en vetkoek van dieselfde deeg. Die vetkoek was gebak in skoon skaapvet dan was dit nie so vetterig soos wanneer dit deesdae in olie gebak word nie. Van die deeg het sy ook so oopgetrek en bo-op die vleis gekook, dit was 'n wonderlike dis, as die sous so deur die deeg gekook het saam met aartappels en pampoen Sy het 'n spesiale melktert gebak wat nie eiers bevat nie maar met melk en maizina gemaak word. Dit was die lekkerste lekker op 'n spesiale geleentheid. Dan het sy ook bron gemaak, 'n vleisdis wat jou, jou vingers laat afeet.
As ek terugdink aan haar, reeds meer as twintig jaar nie nie meer by ons nie, dan hoor ek haar nog sê: "moenie wag tot iemand dood is voordat jy vir hom/haar blomme gee nie, gee dit wyl die persoon nog lewe. Sy het ook altyd van haar silwergrys hare gepraat as haar grafblommetjies.

As jy vandag nog 'n moeder het, wees lief vir haar. Besoek haar gereeld, sy sit daagliks en wonder wanneer kom kuier jy vir haar. Wanneer sy nie meer daar is nie is nie, is daardie geleentheid vir altyd verby en is daar baie dinge wat jy haar nog sou wou vra, waarop jy nooit haar antwoord sal hoor nie........!

Friday, May 8, 2009

MôRE

Ons het almal 'n môre wat vir ons onbekend is. Ons het natuurlik almal die begeerte om te weet wat môre vir ons inhou, maar deur die genade van die Here word dit vir ons verberg. Wanneer ons met die dilemma sit om te weet wat die toekoms vir ons inhou, moet ons nie gefrustreerd of bekommerd raak daaroor nie, ons moet ook nie karring om na fortuinvertellers of waarsêers toe te gaan om te probeer vasstel wat die toekoms inhou nie. Dit is geld in die water gooi.

Jongmense bekommer hulle of hulle môre 'n werk sal hê wanneer hulle klaar is met skool of universiteit. Ouer mense bekommer hulle of hulle instaat sal wees om te oorleef op die pensioen wat hulle kry of gaan kry en die ander is bekommerd of hulle die bevorderings sal kry sodat hulle hoog op die leer in die korporatiewe wêreld sal kom. Nog 'n groep is weer bekommerd of hulle instaat sal wees om daardie karpaaiement te kan aanhou betaal en hulle gesinne te kan onderhou omdat die lewenskoste aanhou vinniger toeneem as wat die salarisse styg. En elkeen wil graag weet hoe lyk sy toekoms want dalk sal dit die kwellings verminder.
Matt 6:25 - 7:3
Ek haal aan uit die Boodskap van Jan van der Watt en Stephan Joubert
"Moenie julle gedurig loop en bekommer nie. Julle kan tog niks aan julle omstandighede verander deur dit te doen nie.
"Mense bekommer hulle gedurig of hulle genoeg gaan hê om van te leef. Moenie soos hulle maak nie. Die lewe gaan tog oor meer as kos en klere. Julle het in elk geval 'n Vader in die hemel wat vir julle alles gee wat julle nodig het om van te lewe. Kyk 'n slag om julle rond. Dan sal julle agterkom hoe Hy vir die hele wêreld sorg.
"Kyk na die voëls: hulle het nie groot skure waar hulle ,hulle kos bêre nie. Tog is hulle nooit honger nie. God sorg dat hulle elke dag genoeg kos het. Weet julle, julle is baie meer vir Hom werd as al die voëls in die hemel. Daarom kan julle op Hom vertrou om ook vir julle te sorg.
'Julle moet ook nie sit en tob oor wat julle elke dag moet aantrek nie. Gaan kyk gerus 'n bietjie in die veld hoe mooi die blomme lyk. Hulle werk nie van vroeg tot laat om so te lyk nie. Tog was nie eers die skatryk koning Salomo so mooi aangetrek soos een van hulle nie.
"As God dan soveel aandag gee aan hoe al die veldblomme lyk - wat die meeste van julle nooit eers raaksien nie - sal Hy mos vir julle ook sorg. Hou op om so kleingelowig te wees! Hou daarom op om heeltyd te sê: 'Wat gaan ons vandag eet?' of : 'Wat gaan ons vandag aantrek?' As julle dit doen , tree julle net so op soos mense wat God nie ken nie. Ek sê weer: hou dadelik op daarmee! Julle het mos 'n Vader in die hemel wat presies weet wat julle vandag nodig het. Hy sal ook sorg dat julle dit alles kry.
'Stel God se koninkryk eerste. Doen alles wat vir Hom belangrik is. Hy sal vir die res sorg. Hy sal elke dag vir julle genoeg kos en klere gee. En los maar môre se probleme vir môre. Van probleme het elke dag immers genoeg. Leef liewer vandag voluit vir God!"

Thursday, May 7, 2009

IN TYE SOOS DIE

Net vir jou

'n Spesiale versameling besielende verse deur Helen Steiner Rice is seker die beste part van 35 jaar in ons besit. Met die her-lees van die gedig- In Tye Soos Die het vir my so gepas gelyk vir die toestande van vandag en ek het gevoel ek wil dit met julle deel. Daar is ook 'n paar ander wat ek met julle wil deel.



Ons luister na die radio

En lees die voorbladnuus.

Ons skud die hoof in wanhoop

En sit ons en verknies;

Ons is bang en ontevrede

Met geen sekuriteit;

Daar is 'n vae onrus

Oor al die twis en stryd.

Die eeu waarin ons lewe.

Is swanger van gevaar -

Daar's daagliks maar gerugte

Wat die gemoed beswaar.

En voor ons lê die toekoms

met weë onbekend -

Geen plek van rus of stilte

Waarheen ons ons kan wend.

Waar kry ons tog gemoedsrus

En vrede en plesier.

As tweedrag en verdeeldheid

Gedurig hoogty vier?

Hoe kan ons die probleme

Van haat en nyd oorbrug?

Waar is die veilige hawe

Waarheen om te ontvlug?



As voorbladnuus en flitse

Ons hartsgeluk vertsteur

Neem liewer dan die Bybel

En kyk wat dit ons leer.

En ons sal sien in hierdie eeu

En eeue lank verby:

Was God in krisisure

Altyd met hulp naby.

Vir die wat op die Here

Vertrou vir hulp en raad

Is Hy die Albeskermer,

'n Hulp en Toeverlaat.

En kom daar dan probleme

Ver bokant ons verstand,

Berus; die dag van môre

Is veilig in Sy hand.

En wetend dat die Skepper

Ons nooit alleen laat staan

Maar dat Hy in Alwysheid

Ons laste kan verstaan.

Bring stilte en gemoedsrus

As kommer ons verniel,

En elke las word ligter

As ons aanbiddend kniel.

Wednesday, May 6, 2009

STOF TOT DANKBAARHEID

Is daar in alles stof tot dankbaarheid? Ons dink nie altyd so nie, trouens ons soek eintlik in alles 'n rede om te kla. Ons kan baie gou murmureer net soos die Israeliete tydens hulle uittog uit Egipte. Die arme Moses het ook nie geweet waarvoor hy hom inlaat toe God hom daar by die braambos geroep het om die volk uit Egipte uit te lei nie. Keer op keer was hulle opstandig omdat dinge nie volgens hulle smaak verloop het nie. As hulle dink aan al die jare wat hulle as slawe van die Egiptenare gewerk en gesmag het om bevry te word, dan vervaag dit wanneer hulle 'n bietjie swaarkry en dinge nie heeltemal uitwerk nie. Wanneer hulle teen die rooisee tot stilstand kom en sien hoe die Egiptenaars op hulle afstorm, dan bewe hulle en dink as ons maar liewers daar gebly het, sou die dood ons nie nou in die gesig gestaar het nie. As die vleis opraak dan is daar groot ongelukkigheid by die volk. As die smaak van die water nie lekker is nie,dan kerm hulle. Telkemale het God voorsien in hulle behoeftes, met die pad deur die see, kwartels en manna en die water wat uit die rots gekom het toe Moses in sy woede daarop geslaan het. As Moses te lank na hulle sin weggebly het, dan bou hulle 'n gouekalf om te aanbid.

Tree ons nie maar dieselfde op wanneer die Here ons roep om Sy kind te word nie. Aan die begin is ons vuur en vlam, maar sodra daar 'n haakplek kom dan gaan sit ons op 'n hoop en wonder of dit die moeite werd is om aan te gaan. As ons die pad van die Here begin loop dan dink ons dat ons nie sal geestelik struikel nie, en as ons struikel dan wil ons nie weer opstaan nie. Dan wil ons liewer teruggaan na ons ou lewe toe, want daar het al die dinge wat nou saakmaak net mooi niks beteken nie. Elke mens kon maar net aangaan soos hy wou. Nou, as ek struikel moet ek vergifnis vra, ek moet selfs vir my medemens om verskoning vra. Dit was voorheen nooit nodig nie, dit voel eintlik of ek verneder word om dit te doen en ek hou nie daarvan om verneder te word nie. Ek wil liewer net aangaan soos voorheen.
Dit is soms so moeilik om te onthou hoekom jy daardie eerste stap geneem het. Jy het 'n kykie gekry van hoe dit sal wees om in die beloofde land aan te kom. Jy was bereid om die prys te betaal om daardie pad te loop, maar langs die pad het jy suinig geword, jy wou sommer net eensklaps daar arriveer. Die Woord sê dat mens eers die prys moet bereken voordat jy die huis bou, as jy dit nie doen nie en jy kan dalk nie die huis voltooi nie, dan gaan die mense vir jou lag.
Kom ons sit skouer aan die wiel, ons help mekaar dat ons nie langs die pad gaan sit nie maar dat ons ons uitstrek na wat voor is en dat ons alles in die stryd sal gooi om die wedloop te voleindig.
Ja daar is stof tot dankbaarheid as ons struikel op ons weg na die ewigheid. Ons struikeling gee vir ons die ondervinding om iemand wat swakker as ons is te help om op te staan as hy struikel of as sy bene bietjie moeg word. Ons moet net vir geen oomblik twyfel nie, ons moet ons oë op Jesus gerig hou.

Tuesday, May 5, 2009

MASKERS

Ons is 'n klomp maskerdraende mense op hierdie aarde. Wanneer jy iemand ontmoed weet jy nooit watter masker so 'n persoon op het nie. Geen persoon wys maklik wie en wat hy is nie, want ons is mos skaam om ons ware kleure ter wys. Ons wil ook nie net agter een masker skuil nie, o, nee ons wil 'n paar maskers hê sodat ons dit na willekeur kan opsit om agter weg te kruip.


Een van die maskers waar agter die meeste mense in die dag waarin ons lewe wegkruip, is daardie Christenmasker. Ek het al die gevoel dat om 'n Christen te wees is deesdae 'n modegier. Almal het al daardie buzz woorde aangeleer wat sal maak dat andere kan dink jy is 'n Christen. Jy is 'n Christen, maar net voor ander mense. Vannaand wanneer jy jou huis se deur agter jou toetrek, dan is jou optrede teenoor jou maat en jou kinders baie ver verwyderd daarvan. Jou woordgebruik is nie die van 'n Christen nie, nee dit is baie nader aan die van 'n heiden.

Jy voel jou horinkies lig wanneer ek praat van 'n heiden want dit is mos baie erg om dalk as een geklassifiseer te word! As jou optrede in die teenwoordigheid van ander mense nie dieselfde is as wanneer jy alleen met jou familie is nie, dan is daar mos iets verkeerd met jou. Dan dra jy mos 'n masker in die openbaar....! Dan wys jy mos iemand anders tussen mense, as wie jy regtig is. Daar by die Kerk tel jy jou woorde en jy is baie noulettend op wat jy sê, maar boeta as jy na kerk by die huis instap en die die reuk van verkoolde hoender tref jou as jy die deur oopmaak, dan kan jy darem maar in tale praat wat net die matrose kan verstaan. Dan is die Predikant wat so lank gepreek het onder skoot, en die ou wat die voorsang gelei het, die verkeer en ag, sommer als is dan verkeerd. Jy besluit daar en dan om ook nie weer op 'n Sondag kerktoe te gaan nie. Met so 'n lang onderlip en trane wat in jou oë opdam is jy op daardie oomblik die ongelukkigste mens op aarde. Jy wou dan vir jou gesin die wonderlikste bord kos voorgesit het en nou is dit 'n totale fiasko.

Nadat jy die Sondagmiddag slapie agter die rug het, voel jy baie beter. Maandag oggend wanneer jy uit die huis uitstap om te gaan werk is daardie Christenmaskertjie terug , en vertel jy van die wonderlike diens wat jy Sondag bygewoon het.

Party mense skuil weer agter ander maskers, trouens hulle het sommer so 'n ry maskers wat daar hang. 'n Masker van vriendelikheid, behulpsaamheid, verdraagsaamheid, toegeneentheid, fluksheid, hierdie maskers word net in die openbaar opgesit, maar wanneer so 'n persoon in sy eie privaatheid saam met sy gesin is dan is dit net die teenoorgestelde want dan wys die ware kleure wanneer dit nie meer nodig is om een of meer van daardie maskers te dra nie.

Baie keer dink ons as ons net ons verkeerde dade van die oë van mense af kan weghou, sodat hulle nie daarvan weet nie, dan is dit in die haak. Ons vergeet egter dat wat ons ookal doen, of dit nou helder oordag of in die middel van die nag is, agter geslote deur of onder die kombers, die Here weet presies wat ons doen en waarmee ons besig is. Ons kan niks vir Hom verberg nie. Ons is 'n ope boek voor Hom.

Kom ons haal daardie maskers af en gooi hulle stukkend sodat die ware ons ten alle tye sigbaar is. Daardie karaktertrekke wat nie volgens God se wil is nie, kom ons vertrou Hom en werk daaraan sodat dit onder Sy wil kan kom. Solank as wat ons dit agter 'n masker wegsteek, sal ons dit nooit voor die Here bely nie, nee dit sal altyd daardie troetel sondetjie wees en bly wat ons dalk eendag die ewige lewe saam met Christus sal laat mis.

Monday, May 4, 2009

ONGELUKKIGE LEWENS KAN NIE GESEëND WEES NIE

Moet nooit moed verloor nie.
Weerstaan mismoedigheid
Want met 'n hart vol wanhoop
Verloor ons die stryd;
Want twyfel, vrees en kommer
Sluit die deur van ons gebed
En geen seën kan verwag word
as ons geen geloof het.
Dus onthou wanneer daar stryd is -
As daar vrees of kommer kwel
Dat dit beste is om alles
Vir ons Vader te vertelo.
Want bid ons nie vir leiding
En ons dra alleen ons kruis,
Neem ons dalk net besluite
Wat verkeerd is; onwys.
Maar wanneer ons deur God se oë
Al ons moeilikheid aanskou
Sien ons sommer alles anders
En ons haat word liefdetrou.
Uit: Net vir jou

Helen Steiner Rice

Friday, May 1, 2009

'N GELESDE LIEFDESDORS

Groete en Vrede!!!

Die verwaarloosde grondpad waarop ons stap, strek lank en reguit voor ons uit. Kort-kort gly my oë oor die Kalahari vlak wat op sy eie unieke manier, groen geil na verskeie somer reënbuie is. Kniehoog kort boesmangras met hul sagte saadpluime, staan skeef in die reënwind wat amper geruisloos oor die Kalahari vlak waai. Verwagtend dans hul heen en weer op maat van onhoorbare wind musiek, want net-nou gaan die soetwater van bo weer val. Amper vergete is die onthou van ‘n droë, wyd uitgestrekte wit en rooi sandduin vlakte, wolklose hemel en ‘n rooigeel skroeiende son.

Die dag was lank en moeisaam en ons wil aanstons by haar loop stilstaan voordat die son slaapplek opsoek. Sy, met die sagte swartbruin oë en wit glimlag wat desnieteenstaande ‘n uitmergelende liefdesdors in haar hart rond dra. ‘n Mooi vrou wat op 28 jarige leeftyd, hoopvol en opreg, hul derde voorkind verwag.

Haar papperige handdruk met die groet, vertel haar lewensverhaal. ‘n Verhaal deurtrek met minderwaardigheid, vernedering, en die rou werklikheid om in totale afhanklikheid van ander mense te lewe. Daarmee saam is sy voorwaar vertroud met die realiteit van ‘n diep gesukkel om bloot net menswaardig te wees. Ons stap in en so met die sitslag steek sy haar hande onder haar bene weg en sit windpomp regop langs die Mooiste Mooi.

Eers proes en stik die gesprek soos ‘n halstarige Lister en tel daarna al hoe meer spoed op. Dan draai die gesprek in Sy rigting en so skilder sy ‘n kleurvolle woordskildery van onse God. Dit terwyl haar dorstige oê grondwaarts kyk. In ‘n poging om Hom as Almagtige te bekroon word woorde soos respek, agting, eerbied, ontsag en ‘n bewondering vir God se grootheid kwistig inmekaar geweef. Mooi woorde, diep woorde, hartswoorde, beïndruk woorde, kerk woorde – voorwaar bewonderingswaardig.

In die stilte wat daarop volg, besef ek met weerligstraal spoed dat mooi woorde, kerk woorde, beïndruk woorde soos ‘n groot diepsand dwarsduin tussen haar en die les van ‘n uitmergelende liefdesdors staan. ‘n Dwarsduin bestaande uit gevestigde sienings, geykte sê dinge en ‘n slaafse navolging van oorlewerings. En buite val die soetwater saggies op die dak.

Hy alleen kan elkeen se unieke uitmergelende liefdesdors les. Hy alleen het die voorhangsel dwarsduin gekloof sodat Hy alleen ‘n styf-teen-mekaar-staan verhouding met jou kan hê want Hy het jou eerste liefgehad.

Wel vanuit die Agter-Kalahari tot ‘n volgende keer, mooi bly, lekker slaap en onthou ....................

Be BLESSED by the BEST and stay within the confinements of LOVE

HJ & Dalene

DIVINE LIFE SENDING.

(Landlyn 054-551 1000)